Main menu:
Zunft
Besonderhede van Boerewoord Zunft
Kontakbesonderhede
Ons wil baie graag insette van u kry. Indien u nog Zunftbundels wil bestel kan u Boerewoord Zunft kontak. Indien u self gedigte skryf of besondere gedigte het wat vir u na aan die hart lê en u voel om dit met ander te deel, is u ook baie welkom om dit aan Boerewoord Zunft te stuur. Indien hulle dit goedkeur, mag u gedig dalk net in die volgende Zunftbundel verskyn. Vir enige navrae, gedagtes, gedigte, nuwe wette, voorstelle, briewe, idees, zunfbundels opinies of wat u ookal wil sê, kan u dit rig aan:
Boerewoord Zunft
E-pos adres: boerewoord@boerevryheid.co.za
Bankbesonderhede
Lidmaatskap van Boerewoord Zunft
Indien u u gedigte wil plaas by Boerewoord Zunft, moet u eers u lidmaatskap by die gilde voltooi en R100 lidmaatskap per jaar betaal. Stuur die volgende elektronies aan die Boerewoord Zunft: u volle kontakbesonderhede, ’n opsommende beskrywing oor uself (50 woorde), ’n klein foto’tjie en bewys van inbetaling van lidmaatskap.
Neem kennis dat indien u ’n lid word van die Boerewoord Zunft u outomaties kopiereg aan die Boerewoord Zunft gee om te enige tyd u gedigte te publiseer.
Inligting oor die Zunft
Karakter van die Zunft
Die Boerewoord Zunft is ’n humoristiese, patriotiese gedigte aand op ’n stylvolle manier. Die Zunft vind plaas met adellike orde, en dinamiese tradisie. Die wette van die Zunft is absoluut, en die basis tot kreatiewe kunste, om die volksiel te voed met vaste spyse. Dit is ’n gebeurtenis om te geniet as deelvorming van die anale van volkswees.
Zunft terme
Woordvors
Dit is die rigter van die Zunft. Die kant waar hy sit heet die noordekant van die Zunft. Hy is verantwoordelik om toe te sien dat alles van die aand in goeie orde geskied, met ’n gesonde geesdrif en kreatiewe meelewing. Hy moet sorg dat die karakter van die Zunft uitgeleef word met koninklike heerskappy. Sy heerskappy strek van die ooprol (begin) tot die skorsing (afsluiting) van die Zunft.
Folterman
Dit is die regter en laksman van die Zunft, wat aan die suidekant van die Zunft plaasneem, ten opsigte van die Woordvors. Hy moet sorg vir die absolute uitlewing van die Zunft se karakter en moet toesig hou oor die goeie sedes. Hy is die valkoog oor die stylvolle en adellike atmosfeer van die Zunft. Hy is ook verantwoordelik vir die kontrolering van die vloei van osbloed. Vir hierdie funksie kan hy Tapmeesters aanstel as medehelpers op hierdie terrein. Hy dra egter steeds die verantwoordelikheid oor die goeie orde en toesig oor die Tapmeesters.
Smartsnuiter
Dit is die bevryder van swaarmoedigheid en die vernietiger van ’n somber Zunft. Hy neem die plek aan die westekant van die Zunft waar. Hy is die gesaghebbende om toesig te hou oor die sprankelende deelname van alle Bloedkamerade, sodat die gesellige aand sy humoristiese karakter ten toon kan stel. Balans is sy wagwoord.
Bloedkameraad
Dit is die amptelike titel van elke meelewende siel in die Zunft wat nie deel vorm van die koninklike gesagvoerders nie.
Flop
’n Bloedkameraad wat as beskuldigde deurloop en staan onder die gereg van die Woordvors, Folterman of Smartsnuiter heet ’n flop. Hierdie titel word opgehef sodra die vonnis van die Flop uitgedien is. Die Flop word dan weer herstel tot die eretitel van Bloedkameraad.
Tapmeester
Dit is die Bloedkameraad wat verantwoordelik is vir die verspreiding, bediening en regulering van osbloed onder die beheer van die Folterman
Glasligleier
Dit is die Bloedkamerade wat die woordelikse leiding neem tydens die Glaseligsessie. Daar kan meer as een Glasligleier wees tydens ’n Glasligsessies. Hy begin en sluit sy Glasligsessie af met die woorde: “Ons lig die glase op saamwees!”
Glaseligsessie
Dit is die geleentheid van wense, aanmoedigings en waarderings. Dit word beheer deur glasligleiers. Die Zunft antwoord op elke glasligwens met die woorde: “Dit is so!” terwyl hulle die glase in die lig omhoog hou. Hierdie sessie word afgesluit met die woorde: “Vrye volk om God te dien!”
Ontlading en opvulling
Dit is die periode waar die Zunft informeel verkeer terwyl die heraanvulling van osbloed plaasvind. Dit is ook die geleentheid om onder andere neuse te gaan poeier.
Osbloed
Dit is eintlik rooiwyn, maar vir die wesens wat meer barbaars neig, is witwyn ook toelaatbaar. Enige ander vorm van die wingerdstok is ook toelaatbaar indien ’n persoon nie alkohol gebruik nie. Vir die werklik desperates is enige nie alkoholiese drank toelaatbaar.
Zunft
Dit kan verwys na die amptelike Boerewoord organisasie, maar in die geval waar die Boerewoord Zunft byeenkoms plaasvind, is die Zunft die somtotaal van al die Bloedkamerade en Koninklike gesagdraers.
Zunft wette
1.Die Woordvors met sy mede gesaghebbendes naamlik die Folterman en Smartsnuiter het koninklike gesag oor die Zunft, om toe te sien dat die karakter van die Zunft in sy volheid uitgeleef word.
2.Die Zunft sal mekaar op hulle titels aanspreek.
3.Osbloed is vir die gebruik daarvan, nie die vergryp daarvan nie. Die adellike en stylvolheid moet ten alle tye gehandhaaf word, sonder om inbraak te maak op spontaniteit en humor.
4.Om die verlof te vra tot ’n spreukbeurt moet u opstaan en u regterhand op die linkerkant van die bors sit. Die Woordvors sal u aandag skenk.
5.Indien u die Zunft wil verlaat vir kort rukkie: Handel volgens reël 4 en sê: “Ek vra ontslag”
Indien die Woordvors instem sal hy antwoord: “Kry Bloedkameraad wat u wil hê.”
Indien hy weier is sy antwoord: “Sit, u bring die Zunft in war.”
6.Indien u die Zunft permanent wil verlaat handel u volgens reël 4 en 5 maar u vra slegs: “Ek versoek my skorsing.”
7.Indien u iets wil sê, handel u volgens 4 en 5, maar u antwoord: “My mond versmag”
8.Elke Glasligleier begin en sluit sy Glaslig af met die woorde: “Ons lig die glase op saamwees”
9.Versnaperinge kan tydens die Zunft geniet word. Die bymiddels mag egter nie die klem van die kuns verswelg nie.
10.Die kleredrag moet die geskiedenis van die Boerevolk weerspieël. Dit kan ook die Westerse wortels van die Boerevolk voor volksplanting vertolk.
’n Nuwe Boerewootd Zunft
1.Enige groep is welkom om ’n nuwe Boerewoord Zunft te stig. U gee net die naam van u nuutgestigte Zunft deur aan die Boerewoord Zunft.
2.Indien u nuwe tradisie ontwikkel by u plaaslike Zunft, stuur die voorstel deur aan die Boerewoord Zunft. Die Boerewoord Zunft sal besluit daaroor en indien dit goedgekeur word, word dit ingestel as wet van die Boerewoord Zunft. Sodoende help u plaaslike Zunft aan die skep van die Boerewoord Zunft Wette.
Wenke tot die hou van ’n Zunft
1.Die persoon wat dit organiseer moet dit self geniet. Hy moet nie soveel reëlings tref dat hy dit self nie geniet nie.
2.Kry ’n lokaal wat die aantal mense kan huisves wat u beplan. Onthou: Klein begin is groot gewin. Nooi vir die eerste keer net mense wat dit sal waardeer en dit sal geniet. Hulle sal volgende keer nog nooi.
3.Maak ’n reëling met ’n drankwinkel om kaste wyn en koeldrank te koop met die verstandhouding om geld terug te kry vir houers waarvan die seëls nie gebreek is nie.
4.Sorg dat daar genoeg Zunftbundels beskikbaar is. Die Woordvors moet vooraf deur die Zunftbundel vir die aand gewerk het om vertroud te wees met die inhoud.
5.Koepons per glasie kan die skinkkontrolering vir ’n groter groep vergemaklik.
6.Boerevlae, kerse en lanterns is gepaste dekor wat hoort by ’n Zunft.