Main menu:
Wie Is Ons
Strukture
Hier word die verhouding tussen die verskillende strukture waarin die Boerevolk georganiseer is, verduidelik.
Die Boerevolk Vryheidstigting (BVS) is 'n liggaam wat homself beywer om fondse in te samel en aan te wend in die vorm van inisiatiewe wat die Boerevolk se strewe na onafhanklikheid sal bevorder.
Die Plaaswerf (www.boerevryheid.co.za) is 'n inisiatief van die BVS, en word deur die BVS befonds. Die doel van die plaaswerf is om die Boerevolk bewus te maak van hulle unieke identiteit, en om 'n kommunikasiemedium vir die Volk te wees.
Die BVS het die aksie geloods om die Volk te organiseer in die vorm van klein groepe, genoem wa-laers. Leiers word in die wa-laers gekies en uit die geledere van die wa-laer leiers word (deur 'n gepaste hierargie) die Boerevolk Verteenwoordigende Raad (BVR) saamgestel. Die BVR is dus 'n uitvloeisel van die wa-laer struktuur wat deur die BVS in werking gestel is.
Die mandaat van die BVR is om homself te beywer vir die onafhanklikheid van die Boerevolk, en om die Volk bymekaar te maak (d.m.v. die wa-laers).
BOEREVRYHEID VOOR 2010
Dit is die slagspreuk wat oral oor die land weerklink. Om daarby uit te kom is dit nodig om die Boerevolk volgens ’n geordende wyse:
i) Van sy IDENTITEIT bewus te maak
ii) Die Wil om VOLK te wees weer wakker te maak
iii) In ’n ordelike struktuur met ’n effektiewe kommunikasiestelsel tot stand te bring.
iv) Om uit hierdie struktuur, ’n verteenwoordigende Raad saam te stel,
v) Om komitees te groepeer wat op die verskillende terreine die bestuur te behartig.
vi) Om as interim die Boerevolk as ’n Virtuele gemeenskap te orden en terselfdertyd
vii) Die Boerevolk na ’n gesamentlike DOELWIT naamlik ONAFHANKLIKHEID te laat strewe
viii) Om soewereiniteit vir die Boerevolk te bewerkstellig.
Geordende Werkwyse vir die totstandbringing van strukture:
1. Die Plaaswerf
Die naam: ’n Patriargale Boerefamilie op ’n Boereplaas is in eie reg ’n “VOLK?? in die kleine. Die Volwassenes (Oudstes) tree op as “Regering?? op die plaas wat beleid maak, beplan en uitvoering aan die planne gee. Die Boer behartig veiligheid, gesondheid, beplan vir voedsel , infrastruktuur soos water, Rioolstelsels, doen herstelwerk, bou paaie, damme en huise. Sorg vir die Godsdienstige aspekte, onderwys sake, handhaaf die Kulturele waardes, tree op as ondersoekbeampte, vrederegter, regter en deel straf uit. Hy kan sportfasiliteite en ander ontspanningsfasiliteite verskaf, en so kan mens voortborduur.
Op die Volksakker vervul die Plaaswerf ’n Virtuele Gemeenskap wat die Boerevolk op alle terreine moet verteenwoordig. Die Plaaswerf is op 27 Februarie 2005 tot stand gebring as ’n Frontpage aanbieding. Op 5 November is die Gespreksforum bekend gestel deur ’n groep wat as die Stormjaers bekend gestaan het. Die beplanning is om dit as ’n Virtuele Gemeenskap of Kubervolk te laat funksioneer. Daar is reeds verskeie belangegroepe tot stand gebring wat onder die naam van Volkslaers bekend staan. Aan die hoof van elke Laer is ’n Kampkommandant in beheer. Hy tree as moderator, biegvader en opvoeder op. Die Laers funksioneer op verskillende wyses; as drukgroepe, as belangegroepe, as gespreksgroepe, en as inligtingsbron. Die Plaaswerf vorm die kern waarom alle kommunikasie, beplanning en groeperinge waarom die Boerevryheidspogings wentel en dien as die INTERIM KUBERVOLK wat uiteindelik sal lei tot ’n ONAFHANKLIKE BOEREVOLK met sy EIE GRONDGEBIED. Die Groot Kubertrek na ONAFHANKLIKHEID
Die Plaaswerf moet georden word in ’n gedissiplineerde Virtuele Gemeenskap of Kubervolk waarheen beweeg en gestrewe word.
Die Subkomitees word tot stand gebring om die orde en doel van die Plaaswerf te handhaaf:
1.1. Plaaswerfbestuur
Die Plaaswerfbestuur is verantwoordelik vir die fisiese funksionering en onderhouding van die Plaaswerf.
1.2. Dissiplinêre komitee
Verantwoordelik om gehalte van gesprekke op die Plaaswerf te waarborg. Omdat die Boerevolk nog altyd die teiken was van mense wat die edele in ons volk wil vernietig, ons adel karakter wil skend en struikelblokke op die weg van vryheid te werp, is dit ongelukkig nodig dat daar ’n dissiplinêre komitee bestaan wat kan waak oor die sedes van die Plaaswerf.
1.3. Plaaswinkel
Die Plaaswinkel is ’n fondsinsamelingsprojek van die Plaaswerf waarin lede verskeie artikels kan adverteer vir op kommissie basis.
1.4. Tegniese komitee
Die Tegniese komitee is die kuber kenners wat verantwoordelik is vir die tegniese funksionaliteit, opdatering en onderhouding van die Plaaswerf.
1.5. Komitee vir Webwerf ontwikkeling
Die Komitee vir Webwerf ontwikkeling is verantwoordelik om die behoeftes wat ontstaan met verloop van tyd realiseer in die vorm van die Webwerf.
2. Die Boerevolk Vryheidstigting
Die BVS het tot stand gekom ongeveer in Augustus 2005.
Die doel van die BVS was aanvanklik om:
i) Fondse te bekom om
ii) Aksies of organisasies te ondersteun of tot stand te bring, wat ten doel het: ONAFHANKLIKHEID VIR DIE BOEREVOLK.
iii) Daar is na aanleiding van onlangse ISO, en BVR vergaderings tans ’n derde doel bygevoeg nl om tesame met die voorsitters van al die komitees, ’n Uitvoerende Rol te speel.
Die BVS word saamgestel deur 7 verkose lede en ’n onbepaalde gekoöpteerde lede wat bestaan uit die Voorsitter of afgevaardigde, van die verskillende strukture wat tot stand gebring word.
3. Die Volksverteenwoordigende Vergadering (VVV)
Die Volksverteenwoordigende Vergadering word beskou as ’n vergadering van die Volk, uit die Volk .wat die nodige locus standi aan die verskillende strukture wat tot stand gebring word gee. Die VVV word gevorm deur alle Walaerleiers, asook enige (geregistreerde) lid wat op die Volksregister geregistreer is. Die VVV gee ook die nodige mandaat aan die aangewese Walaerleiers om uiteindelik as Hoofkommandante, lede van die BVR te word. Die Aanwysing van die BVR aanwysings is tot dusvêr, as tussentydse maatreël, tydens die VVV gedoen maar sal in die toekoms outomaties geskied soos persone die rang van Hoofkommandant bereik. Die kondonering van nuwe lede sal tydens die VVV geskied. Die VVV kan geen besluit neem nie, maar kan slegs aanbevelings en suggesties aan die BVR maak. Tydens die jaarlikse vergadering van die VVV word die verkose lede van die BVS aangewys deur die VVV.
Die VVV het tydens die eerste formele vergadering op 9 Desember 2006 die BVR versoek en ’n mandaat gegee
i) om die Boerevolk se onafhanklikheid terug te kry langs die Volkeregtelik-Juridiese pad,
ii) asook om die Boerevolk bymekaar te maak binne ’n ordelike struktuur.
4. Die Boerevolk Verteenwoordigende Raad (BVR)
Die BVR is ’n Raad wat tot stand kom uit die range van die Walaerleiers. Die BVR word tans as interim maatreël, aangewys uit die hoogste hiërargie van Walaerleiers. Uiteindelik sal elke Hoofkommandant lid van die BVR wees. Die BVR handel volgens ’n Grondwet wat aanvanklik deur die VVV goedgekeur is.
Die BVR het ’n mandaat ontvang by die Volksverteenwoordigende Vergadering:
i) om die Boerevolk se onafhanklikheid terug te kry langs die Volkeregtelik-Juridiese pad, deur op te tree namens die Boerevolk waar ook al dit nodig mag word.
ii) asook om die Boerevolk bymekaar te maak binne ’n ordelike struktuur.
iii) Tree op as die beleidmakende struktuur, op pad na Onafhanklikheid..
4.1 Volkeregtelike-Juridiese Komitee (VJK)
Taak is om deurmiddel van die Majuba deklarasie en ander diplomatieke en juridiese prosesse, die Boerevolk se onafhanklikheid verwesentlik.
4.2 Boerevolk Verkiesings Kommissie
Die BVK se taak is om die volk in Laerverband te orden en die Leierstruktuur gereeld op te gradeer sodat die BVR uiteindelik slegs uit Hoofkommandante sal bestaan.
Dit behels die gereelde vasstelling van gebiede en groepe.
5. Die Instituut vir Samewerking en Ontwikkeling (ISO)
Die ISO is in wese ’n raadgewende liggaam wat strategie beplan vir die uitvoering van die Vryheidstrewe. Dit ISO word gevorm deur die lede van die verskillende Komitees, sowel as ongeregistreerde lede wat uitgenooi word vanweë hul kundigheid op verskillende terreine.
Die ISO besit geen besluitnemende magte nie, maar maak slegs aanbevelings.
Samevatting
Daar is ’n voortdurende interaksie tussen die verskillende strukture. Rolspelers funksioneer ook op verskillende terreine maar binne die geordende raamwerk.
----