Main menu:
BKBS
GRONDWET
VAN DIE
Die boerevolk-vryheidstigting
(BOEREVOLK FREEDOM FOUNDATION)
1. NAAM
Die naam van die organisasie is die BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING.
2. OMSKRYWINGS
By die toepassing van hierdie grondwet, en tensy dit uit die samehang anders blyk, beteken:
"algemene ledevergadering" die vergadering wat in artikel 11.1 bepaal word;
"boekjaar" die tydperk wat strek vanaf 1 April van enige jaar tot 31 Maart van die volgende jaar;
"buitengewone ledevergadering" `n vergadering wat belê is ingevolge artikel 11.2;
“geaffilieerde organisasies" instansies wat as geaffiliëerde lede toegelaat is ingevolge artikel 7.1.4;
"DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING” die stigting wat kragtens hierdie grondwet optree namens die lede van die Boerevolk;
“Lid” is ‘n persoon en/of vereniging wat voldoen aan die bepalings van die artikel 7.1.1 en/of 7.1.4.
"Raad" die Raad wat in artikel 9.1. bepaal word; en
"Sekretaris" die Sekretaris soos wat in artikel 9.5.2. bepaal word.
3. VISIE (Doelwit en Strewe)
Die VISIE (Doelwit en Strewe) van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING is om die nodige finansiële steun te bekom om aan te wend in die proses om onafhanklikheid vir die Boerevolk te verkry.
4. MISSIE (Sending en Roeping)
Die MISSIE (Sending en Roeping) van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING is om die waardigheid, lewenskwaliteit, bestaansekerheid, volkstrots, en reg tot onafhanklikheid van die Boerevolk uit te bou en strukture in plek te kry om hierdie doelwitte te verwesenlik.
5. DOELSTELLINGS
5.1 Die doelstellings van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING is om :
5.1.1 die werksaamhede wat uit sy MISSIE (Sending en Roeping) en VISIE (Doelwit en Strewe) voortvloei, onafhanklik, maar tog in samewerking met ander Volkere, Nasies, en belanghebbende organisasies te bedryf, binne die bepalings van hierdie Grondwet;
5.1.2 as forum te dien vir lede van die Boerevolk en lojale organisasies om aangeleenthede van gemeenskaplike belang te verwesenlik ter bevordering van die VISIE (Doelwit en Strewe) en MISSIE (Sending en Roeping);
5.1.3 lede aan te moedig en aan hulle leiding te gee om hul kennis, ervaring, wysheid en verstandelike vermoëns uit te bou en tot die beskikking van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING te stel, sodat dit wat individueel en gesamentlik oor bykans twee eeue deur lede van die Boerevolk opgebou en verwerf is nie net behoue sal bly nie, maar verder ontwikkel kan word en aangewend word ter verwesenliking van die onafhanklikheidstrewe;
5.1.4 alle kragte saam te snoer en te aktiveer, en om alle beskikbare menslike en materiële hulpbronne te ontgin en te ontwikkel tot steunstelsels vir DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING en daarom vir die lede van die Boerevolk, ten einde sodoende alle moontlike wettige middele aan te wend ter bereiking van Onafhanklikheid;
5.1.5 op wettige wyse fondse in te samel, te ontvang, te beheer, en te bestuur, en om personeel aan te stel, indien nodig, sodat die sake van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING behartig sal word in die beste belang van die Boerevolk;
5.1.6 die riglyne waarvolgens fondse toegedeel word en waarvolgens funksies en dienste aangebied word, gereeld te hersien, en indien nodig, aan te pas;
5.1.7 fondse wat deur die bestuursliggame van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING gelewer word, deeglik te beheer sodat die teikens met die bedoelde dienste bereik word, en om toe te sien dat dienste koste-effektief en doelmatig gelewer word, asook om gereeld verslag te doen soos wat die Algemene Ledevergadering van tyd tot tyd mag bepaal.
6. GRONDSLAG
6.1 DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING word BEDRYF op die grondslag van:
6.1.1 liefde tot en gehoorsaam aan ons Hemelse Vader en tot Volksgenote; en die Vaderland.
6.1.2 die bevordering van die belange van al die lede van die Boerevolk op plaaslike, nasionale en internasionale vlak;
6.1.3 die Boerevolk se Geloofsoortuiginge, Kultuur, Volkstrots, Volkskarakter, Volkswaardes en Waardestelsels te koester en uit te bou;
6.1.4 samewerking met ander instellings met soortgelyke strewes, ten einde alle kragte volledig te mobiliseer, te organiseer en te aktiveer, sonder om op enige wyse inbreuk te maak op die selfstandigheid, identiteit, magte en regte van sulke organisasies of instellings;
6.1.5 die bevordering van die belange van sy lede op alle terreine, met verantwoordelikheid en waardigheid, sonder om in enige partypoIitieke stryd, of kerklike dogma betrokke te raak.
7. LIDMAATSKAP
7.1 Die volgende reëls geld vir lidmaatskap van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING.
7.1.1 Enige lid van die Boerevolk wat die doelstellings, grondslag, MISSIE (Sending en Roeping) en VISIE (Doelwit en Strewe) van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING onderskryf en word deur die sekretaris, handelende namens die Raad bevestig.
7.1.2 Die Raad het die reg om enige aansoek om lidmaatskap af te keur, sonder opgaaf van redes.
7.1.3 Indien 'n lid skuldig bevind word aan 'n misdryf, of weens sy gedrag aanstoot gee aan ander lede van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING, of indien 'n lid DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING deur sy openbare optrede in onguns bring, kan die Raad, na ondersoek, so ‘n lid se lidmaatskap beëindig. So ‘n beëindiging is finaal.
7.1.4 Verenigings of instellings wat soortgelyke doelstellings nastreef as DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING kan toegelaat word as geaffilieerde lede van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING, en het dieselfde regte en verpligtinge as enige ander lid.
8. ADMINISTRASIE
8.1 Die administrasie van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING word behartig deur ’n sekretaris wat die nodige administrasie stelsel by die hoofkantoor, daarstel.
8.2 Die hoofkantoor van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING bestaan uit die Raad en die nodige personeel.
8.3 indien nodig kan provinsiale kantore, streekkantore, en selfs takkantore tot stand gebring word.
9. BESTUUR
Die volgende reëls geld vir die bestuur van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING:
9.1 DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING word bestuur en beheer deur 'n Raad wat bestaan uit minstens drie (3) en hoogstens sewe (7) lede van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING wat jaarliks op 'n Algemene Ledevergadering verkies word.
9.2 Kandidate vir die Raad word jaarliks op 'n toepaslike nominasievorm benoem deur lede en afgevaardigdes na die Algemene Ledevergadering. Die nominasievorm moet behoorlik onderteken word deur die voorsteller, ‘n sekondant en die kandidaat en moet minstens veertien (14) dae voor die Algemene Ledevergadering ingedien word by die Sekretaris.
9.3 Indien daar 'n vakature op die Raad ontstaan, om welke rede ookal, word die vakature aangevul deur die Raad. Iemand wat aldus aangestel word se ampstermyn strek tot en met die volgende Algemene Ledevergadering.
9.4 Die Raad mag bykomende lede vir bepaalde opdragte koöpteer. Sulke persone het slegs stemreg vir die aangeleenthede waarvoor hulle gekoöpteer is, en dien slegs totdat die bepaalde aangeleentheid afgehandel is.
9.5 Die Raad
9.5.1 kies uit eie geledere
9.5.1.1 ’n Voorsitter (wat ook Voorsitter is van die Algemene Ledevergadering) en
9.5.1.2 'n Ondervoorsitter wat by afwesigheid of onvermoë van die Voorsitter optree as Voorsitter van die Raad;
9.5.2 'n Sekretaris wat as die uitvoerende beampte sal optree.
9.6 Lede van die Raad word deur die Algemene Ledevergadering gekies vir 'n termyn van twee jaar waarvan die helfte slegs een jaar as lid van die Raad sal dien, met dien verstande dat die Raad by sy eerste vergadering bepaal watter helfte van sy lede gedurende die eerste termyn slegs een jaar sal dien. Alle lede van die Raad wie se ampstermyn verstryk het, is herkiesbaar.
9.7 'n Lid van die Raad mag nie enige direkte af indirekte belang hê by, of voordeel trek uit enige kontrak wat die Raad met enige organisasie of persoon mag aangaan nie, tensy die Raad dit uitdruklik goedkeur na ‘n deursigtige, vrye, markgedrewe en openbare proses of werkwyse, sonder enige onregverdige bevoordeling van enige persoon of instelling.
9.8 ’n Betaalde amptenaar van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING mag in 'n raadgewende hoedanigheid in die Raad dien, maar het geen stemreg nie, tensy die Raad uitdruklik ’n besluit neem oor ’n bepaalde amptenaar en dit so notuleer.
9.9 “n Stigtings vergadering word belê. Tot tyd en wyl die eerste Algemene lede vergadering plaasvind, bestaan die Raad van die Stigting, uit sodanige lede wat spontaan bymekaar gekom het en die Stigting tot stand gebring het. Alle handelinge ter vestiging van die Stigting, sal deur die eerste Algemene lede vergadering bekragtig word.
10. FUNKSIES EN BEVOEGDHEDE VAN DIE RAAD
Die raad
10.1 oorweeg aansoeke om lidmaatskap van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING en kan 'n lid se lidmaatskap beëindig;
10.2 open en bedryf 'n bankrekening in die naam van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING;
10.3 stel 'n finansiële beleid vir DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING vas, en verseker dat daar aan streng rekenkundige beheer en maatstawwe voldoen word;
10.4 skep poste wat nodig mag wees om die werksaamhede van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING doeltreffend uit te voer;
10.5 stel die personeelbeleid van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING vas, waarin voorsiening gemaak word vir gesonde personeelgebruike;
10.6 stel 'n dagbestuur aan, wat bestaan uit die Voorsitter en Ondervoorsitter en twee lede van die Raad, om dringende aangeleenthede te hanteer waaroor hulle by die Raad se eersvolgende vergadering verslag moet doen;
10.7 stel jaarliks, of as dit nodig mag wees, vir korter tydperke, begrotings op, bepaal lidmaatskap-, affiliasie- en ander gelde, of pas sulke gelde aan, en bring dit te berde om oorweeg te word op die eersvolgende Algemene Ledevergadering of Buitengewone Ledevergadering;
10.8 stel werkwyse en reëls op vir vergaderings;
10.9 Stel komitees aan waarin persone kan dien wat nie lede van die Raad is nie, ten einde enige werksaamheid van die Raad te verrig, met dien verstande dat die voorsitter van so 'n komitee `n lid van die Raad moet wees, en dat besluite van so ‘n komitee by die volgende vergadering aan die Raad voorgelê moet word vir bekragtiging.
10.10 Is bevoeg om met instemming van die Algemene Ledevergadering, 'n Maatskappy sonder winsbejag op te rig, kragtens die Maatskappyewet van die Republiek van Suid-Afrika, om enige of alle werksaamhede van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING te verrig, met dien verstande dat so 'n handeling nie die voortbestaan van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING in gevaar stel nie en die Raad van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING die direksie van so 'n stigting sal vorm;
10.11 kan enige van sy werksaamhede opdra aan enige lid van die Raad, enige bestuurslid van 'n provinsiale, of streek- of takkantoor, of aan enige lid van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING of enige werknemer van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING;
10.12 kan namens DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING enige regsgeding instel of verdedig, en kan vir dié doel een of meer lede van die Raad magtig om alle nodige dokumente op te stel of te laat opstel;
10.13 kan konferensies en ander byeenkomste beplan en reël;
10.14 stel 'n volledige sakelys op vir elke Algemene Ledevergadering;
10.15 bepaal die wyse waarop daar kennis gegee sal word van ’n Algemene Ledevergadering of ’n Buitengewone Ledevergadering, met dien verstande dat—
a) daar vir eersgenoemde vergadering minstens 30 dae, en vir laasgenoemde vergadering minstens 14 dae vooraf kennis gegee word; en
b) daar 'n volledige sakelys in die kennisgewing vervat moet wees;
10.16 voer die besluit en opdragte uit van die Algemene Ledevergadering of Buitengewone Ledevergadering en lewer verslag daaroor aan die eersvolgende Algemene Ledevergadering;
10.17 Lewer minstens een keer per jaar skriftelik verslag aan lede oor sy werksaamhede tydens die voorafgaande boekjaar, en lê die verslag voor aan die eersvolgende Algemene Ledevergadering;
10.18 stel ondersoek in na enige ongerymdhede wat mag ontstaan, en neem die nodige tugstappe soos wat die Raad dienstig ag; en
10.19 kom ander funksies na wat nie bots met die MISSIE (Sending en Roeping) en VISIE (Doelwit en Strewe) van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING en/of die bepalings van die Algemene Ledevergadering nie en wat die bestaansdoel van die stigting sal bevorder.
11. VERGADERINGS
Die volgende bepalings geld vir vergaderings van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING:
11.1 Algemene Ledevergadering
11.1.1 Die Algemene Ledevergadering is die hoogste gesagsliggaam van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING;
11.1.2 ‘n Algemene Ledevergadering moet so gou doenlik na die einde van die boekjaar belê en gehou word, maar nie later nie as 30 September van elke jaar;
11.1.3 Die Algemene Ledevergadering word saamgestel deur alle lede.
11.1.4 Op die Algemene Ledevergadering mag afwesige lede verteenwoordig word deur afgevaardigdes wat lede van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING moet wees, en wat skriftelik aangewys word deur ‘n lid of deur onderskeie streke waar van toepassing. Die getal afgevaardigdes per streek (waar van toepassing), word jaarliks deur die Algemene Ledevergadering vasgestel. Slegs sulke afgevaardigdes en lede het stemreg op die betrokke Algemene Vergadering.
11.2 Buitengewone Ledevergadering:
11.2.1 'n Buitengewone Ledevergadering word gehou op die skriftelike versoek van meer as die helfte van die lede en afgevaardigdes (wat in artikel 11.1.3 genoem word) na die voorafgaande Algemene Ledevergadering, of wanneer die Raad dit nodig ag.
11.2.2 Slegs lede en afgevaardigdes wat in artikel 11.2.1 genoem word, en lede van die Raad het stemreg op 'n Buitengewone Ledevergadering.
11.2.3 'n Buitengewone Ledevergadering mag slegs die bepaalde sake, wat in die sakelys genoem word, in voorbehoud (b) by artikel 10.15, bespreek en daaroor besluit.
11.3 Raadsvergadering
11.3.1 Die Raad vergader minstens vier (4) keer per jaar.
12. KWORUM
Die volgende kworumreëls geld by DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING se vergaderings, uitgesonderd provinsiale, streeks- en takvergaderings -
12.1 Die kworum vir 'n Raadsvergadering is een meer as die helfte van die lede van daardie besondere vergadering.
12.2 Op 'n Algemene Ledevergadering of 'n Buitengewone Ledevergadering vorm drie-en-dertig komma drie persent (33,3%) plus een van die lede of afgevaardigdes na daardie vergadering 'n kworum.
12.3 Indien daar 30 minute verloop het vanaf die vasgestelde tyd en datum van enige vergadering nie genoeg lede teenwoordig is om ‘n kworum te vorm nie, word die vergadering uitgestel tot dieselfde tyd en plek sewe (7) dae later, by welke geleentheid die aantal lede wat dan teenwoordig is ’n kworum sal uitmaak.
13. PROSEDURE BY VERGADERINGS
By vergaderings geld die volgende prosedure:
13.1 Die voorsitter van 'n vergadering beslis oor die werkwyse en reëls wat op die vergadering gevolg sal word, onderworpe aan die reëls wat opgestel is ingevolge artikel 10.8.
13.2 As beide die voorsitter en die ondervoorsitter afwesig is, kies die lede wat teenwoordig is ’n persoon uit hul midde om op daardie vergadering as voorsitter op te tree.
13.3 By 'n staking van stemme het die voorsitter, 'n beslissende stem benewens sy beraadslagende stem as lid van die vergadering.
14 BEVOEGDHEDE VAN DIE ALGEMENE LEDEVERGADERING
Die Algemene Ledevergadering het die bevoegdheid om –
14.1 enige aangeleentheid waarvan daar kennis gegee is, te bespreek en bindende besluite daaroor te neem, mits dit binne die werksaamhede van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING val.
14.2 die Raad te verkies;
14.3 geouditeerde finansiële state van die voorafgaande boekjaar te oorweeg en te aanvaar;
14.4 die begrotings en gelde wat in artikel 10.7 genoem word te oorweeg en te aanvaar;
14.5 die skriftelike verslag wat in artikel 10.16 genoem word, te oorweeg en te aanvaar,
14.6 die Raad te ontbind en her aan te stel of Raadslede se dienstyd te beëindig.
15 FINANSIES
Die volgende finansiële reëls geld:
15.1 DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING beskik oor sy eie fondse en oefen beheer daaroor uit.
15.2 DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING samel fondse in by wyse van enige wettige metode, met dien verstande dat die gebied waarin opgetree en waarin bydraes ingesamel sal word, nie beperk is tot die Republiek van Suid-Afrika is nie; met dien verstande voorts dat die organisasie geen kompetisie, wedstryd, spel, skema, reëling of stelsel waarmee die een af ander prys gewen kan word, mag bedryf of mag laat bedryf nie, tensy die magtiging daarvoor kragtens enige ander Wet vooraf daarvoor verkry is.
15.3 Fondse wat vir belegging beskikbaar is, mag slegs belê word by geregistreerde finansiële instellings soos omskryf in Artikel 1 van die Wet op Finansiële Instellings (Belegging van Fondse), 1984, en in aandele wat op 'n gelisensieerde effektebeurs genoteer is, soos omskryf in die Wet op Beheer van effektebeurse, 1985 (Wet 1 van 1985).
15.4 Die Raad moet tydens die Algemene Ledevergadering 'n geouditeerde finansiële verslag voorlê.
15.5 Fondse word aangewend om uitgawes te dek wat aangegaan mag wees tot die uitvoering van die werksaamhede van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING
15.6 Die sekretaris het volmag om transaksies aan te gaan wat deur die Raad goedgekeur is. Tjeks moet onderteken word deur minstens twee daartoe aangewese lede van die Raad.
15.7 'n Finansiële verslag moet by elke vergadering van die Raad voorgelê word.
15.8 Geen wins of ander voordele mag aan iemand uitgedeel word nie, en beskikbare fondse moet uitsluitlik aangewend word vir belegging kragtens Artikel 14.3 van die Grondwet, of vir die bevordering van die belange van sy lede.
15.9 Die bedrywighede van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING moet geheel en al gemik wees ter bereiking van sy enigste doelwit, naamlik die bevordering van die belange van sy lede soos uitgespel.
15.10 DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING mag geen besigheid soos gewone handelsaktiwiteite en spekulatiewe transaksies bedryf nie, en mag ook nie eiendom aankoop met die bedoeling om huurinkomste daaruit te verkry nie.
16 VERTOLKING VAN DIE GRONDWET
In die geval waar lede verskil oor die vertolking van hierdie Grondwet, is die beslissing van die Voorsitter van die Algemene Ledevergadering finaal en bindend.
17 SKADELOOSSTELLING
17.1 Elke ampsdraer, lid of personeellid van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING word deur DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING skadeloos gestel en sal uit DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING se fondse vergoed word vir enige onkoste aangegaan of aanspreeklikheid opgedoen of verliese gely in die wettige behartiging van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING se sake of in die wettige uitvoering van sy pligte; met dien verstande dat waar sulke aanspreeklikheid of verlies toe te skryf is, aan die ampsdraer, lid of personeellid se growwe nalatigheid, die skadeloosstelling nie geld nie.
17.2 Die Algemene Ledevergadering se beslissing oor of nalatigheid vir doeleinde van subartikel 1 aangemerk kan word as "growwe nalatigheid"of nie, is geldig en bindend.
18. ONTBINDING OF SAMESMELTING VAN DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING
By ontbinding of samesmelting geld die volgende bepalings:
18.1 DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING mag ontbind of saamsmelt met 'n ander Stigting of instansie met soortgelyke doelstellings mits minstens vyf en sewentig persent (75%) van die lede, wat verteenwoordig is (soos in artikel 11.2.1 genoem), daartoe instem op ’n Buitengewone Ledevergadering wat vir dié doel belê is,.
18.2 Die ontbinding of samesmelting wat in artikel 18.1 bedoel word, moet minstens een-en-twintig (21) dae, vooraf kennis gegee word. Indien 'n kworum nie teenwoordig is nie, word die vergadering uitgestel tot dieselfde tyd en plek, sewe (7) dae later, by welke geleentheid die teenwoordiges die ontbinding of samesmelting, na gelang van die geval, kan afhandel.
18.3 Indien DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING sou ontbind, sal die oorblywende bates van die Stigting oorgeplaas word na 'n ander vereniging of organisasie met oogmerke soortgelyk aan dié van DIE BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING.
19. GESKILBESLEGTING: ARBITRASIE
Die Raad mag hom tot arbitrasie wend indien hy in dispuut met 'n persoon of 'n instansie verkeer en hy die probleem of probleme nie bevredigend kan oplos nie; in welke geval die bevindings en aanbevelings van die arbiter beslissend sal wees.
20. WYSIGING VAN DIE GRONDWET
Hierdie Grondwet kan slegs gewysig word met ‘n tweederde meerderheid van die teenwoordige lede 'n wettig-gekonstitueerde Algemene Ledevergadering (of Buitengewone Ledevergadering) waarvan daar toepaslik kennis gegee is met vermelding van die beoogde wysiging.
Goedgekeur op die dag van 2005
Geteken deur:
_________________________________ _________________________________
Voorsitter Sekretaris
-----