Boerevryheid2010

Werfskrop

Go to content

Main menu:


BVR

BKBS

Die Nuwe BVR (24 Feb 2008)

Die nuwe BVR is Saterdag tydens n VVV (Volks Verteenwoordigende Vergadering amptelik aangewys.

Kaap:
Jacques Aproskie

Vrystaat:
Doepie du Plessis
Gerhard Smith (Vaaldriehoek)

Natal
Rudie Delport

Oos Transvaal:
Pierre Wilsenach

Noord Transvaal:
Barend Pienaar

Noord-Wes Transvaal:
Edwin Leemans

Oos Rand:

Henno vd Merwe
Dries Reynecke

Wes Rand en Wes Transvaal
Gerrie Smit

Pretoria
Lets Pretorius
Hein Venter

Baie geluk maar meer nog, baie sterkte aan die manne. Om ons uit hierdie absolute gemors waarin ons, onself nou bevind, uit te kry, het ons baie sterk leierskap en leiding nodig. So n leier (leiers) sal bereid moet wees om eie sake soms tweede te plaas. Aan die ander kant, sal die leiding alleen kan plaasvind as daar n onbaatsugtige ondersteuningsbasis en ondersteuning bestaan. Help julle leiers om sterker te word, om steeds met meer selfvertroue en motivering, namens die Boerevolk op te tree.

Boeregroete,
Lets Pretorius

Die Grondwet van die BVR is aanvanklik deur die Volksverteenwoordigende Vergadering (VVV)goedgekeur.

GRONDWET

VAN DIE

BOEREVOLK VERTEENWOORDIGENDE RAAD
(BOEREVOLK REPRESENTATIVE COUNSEL)




1. NAAM

Die naam van die Raad is die BOEREVOLK VERTEENWOORDIGENDE RAAD (BVR) , of die Boerevolk Representing Counsel (BRC).

2. OMSKRYWINGS
By die toepassing van hierdie grondwet, tensy dit uit die samehang anders blyk, beteken:

2.1 "Volks verteenwoordigende Vergadering (VVV)" die vergadering wat in artikel 11.1 bepaal word;

2.2 "Boerevolk Verteenwoordigende Raad" (BVR) die Raad wat in artikel 9.1. Bepaal word;
2.3 “Boerevolk verkiesings kommissie” (BVK) het die voorbereiding van die verrigtinge van 9 Desember 2006, in opdrag van die BVS hanteer. Na die totstandkoming van die BVR sal dit verder kragtens Artikel ??? verder funksioneer.
2.4 Die Instituut vir Samewerking en ontwikkeling (ISO) is n Raadgewende groepering wat deur die BVR volgens Artikel ??? van die Grondwet aangewys sal word en slegs as raadgewende instansie aan die BVR sal optree.
2.5 Die “Boerevolk Vryheidstigting” (BVS) is ‘n Stigting wat uit die Volk opgerig is met die doel om fondse te bekom en dit aan te wend deur aksies te loods, en steun te verleen aan alle pogings wat tot die Onafhanklikheid van die Boerevolk meewerk. Die stigting het slegs die totstandkoming van die VVV , die BVR, die BVK en die ISO geïnisieer maar speel geen direkte rol binne die werksaamhede van die BVR nie.
2.6 “Buitegewone vergadering” vind op enige vlak van die Laerstruktuur plaas en geskied volgens die reëls en bepalings van artikel11.3
2.7 “geaffilieerde organisasies" instansies wat as geaffilieerde lede toegelaat is ingevolge artikel 7.1.4;
2.8 “lid” is ‘n persoon wat voldoen aan die bepalings van die artikel 7.1.1
2.9 “Ondersteunende lid”” is n lid volgens Artikel 7.1.2
2.10 “Laerstruktuur” is die totale organogram van groeperinge waarbinne die verskillende Laers en Leiers tot stand gebring word.
2.11 “Lidmaatskapdokument” Is ‘n dokument of kaart wat deur ‘n lid gedra kan word en wat aantoon dat hy/sy lid is van die Boerevolk.
2.12 Artikel A06 (die Reëls om Laers op te rig) is ‘n aanhangsel en deel van die grondwet wat die reëls wat binne die Laerstruktuur sal geld uiteensit.


3. VISIE (doelwit en strewe)

Die visie van die BVR is om ONAFHANKLIKHEID vir die BOEREVOLK te verkry en te handhaaf, (soos
aan die BVR opgedra deur die Volks verteenwoordigende Vergadering (VVV) gehou op 9 Desember 2006.)


4. MISSIE (sending en roeping)

Die missie van die BVR is om die waardigheid, lewenskwaliteit, bestaansekerheid, volkstrots, en reg tot onafhanklikheid van die Boerevolk uit te bou, strukture in plek te kry en die nodige aksies te neem om hierdie doelwitte te verwesenlik.

5. DOELSTELLINGS

Die doelstellings van die BVR is om :
5.1 Die werksaamhede wat uit sy visie en missie voortvloei, onafhanklik, maar tog in samewerking met ander volkere, nasies, en belanghebbende organisasies te bedryf, binne die bepalings van hierdie grondwet;

5.2 As fasiliteerder te dien vir lede van die Boerevolk en lojale organisasies, om aangeleenthede van gemeenskaplike belang te verwesenlik ter bevordering van die visie en missie.

5.3 Lede aan te moedig en aan hulle leiding te gee om hul kennis, ervaring, wysheid en verstandelike vermoëns uit te bou en tot die beskikking van die BVR te stel, sodat dit wat individueel en gesamentlik oor bykans twee eeue deur lede van die Boerevolk opgebou en verwerf is nie net behoue sal bly nie, maar verder ontwikkel kan word en aangewend word ter verwesenliking van die onafhanklikheid strewe van die Boerevolk;

5.4 Alle kragte saam te snoer en te aktiveer, en om alle beskikbare menslike en materiële hulpbronne te ontgin en te ontwikkel tot steun stelsels vir die BVR en daarom vir die lede van die Boerevolk, ten einde sodoende alle moontlike wettige middele aan te wend ter bereiking van onafhanklikheid;

5.5 Op wettige wyse fondse in te samel, te ontvang, te beheer, en te bestuur, en om personeel aan te stel, indien nodig, sodat die sake van die BVR behartig sal word in die beste belang van die Boerevolk;

5.5.1 Die riglyne waarvolgens fondse toegedeel word en waarvolgens funksies en dienste aangebied word, gereeld te hersien, en indien nodig, aan te pas;

5.5.2 Fondse wat deur die bestuursliggame van die BVR gelewer word, deeglik te beheer sodat die teikens met die bedoelde dienste bereik word, en om toe te sien dat dienste koste-effektief en doelmatig gelewer word, asook om gereeld verslag te doen soos wat die VVV van tyd tot tyd mag bepaal.


6. GRONDSLAG

Die BVR word bedryf op die grondslag van:

6.1 Liefde tot en gehoorsaam aan ons Hemelse Vader en tot Volksgenote; en die Vaderland.

6.2 Die bevordering van die belange van al die lede van die Boerevolk op plaaslike, nasionale en internasionale vlak;

6.3 Die Boerevolk se geloofsoortuiging, selfrespek, kultuur, volkstrots, volkskarakter, volkswaardes en waardestelsels, deur dit te koester en uit te bou;

6.4 Samewerking met ander instellings met soortgelyke strewes, ten einde alle kragte volledig te mobiliseer, te organiseer en te aktiveer, sonder om op enige wyse inbreuk te maak op die selfstandigheid, identiteit, magte en regte van enige van die partye, organisasies, of instellings nie;

6.5 Die bevordering van die belange van sy lede op alle terreine, met verantwoordelikheid en waardigheid, sonder om in enige partypolitieke stryd, of kerklike dogma betrokke te raak.


7. Lidmaatskap

Die volgende reëls geld vir kwalifikasie om opgeneem te word in die Volksregister:

7.1 “lid” behels enige lid van die Boerevolk wat die doelstellings, grondslag, missie en visie van die BVR onderskryf deur die Tien Beginsels van die Boer te aanvaar, aansoek te doen en aanvaar word om in die Volksregister opgeneem te word.

7.2 “Stemgeregtigde lid” kwalifiseer aan Artikel 7.1 en is ouer as 16 jaar.

7.3 “Ondersteunende lid” is ‘n persoon wat om een of ander rede nie bereid is om die Tien Beginsels te onderskryf nie, of nie by die Strukture betrokke wil raak nie. Sodanige lid kan deel van ’n Walaer vorm maar kan in geen Leiersposisie verkies word nie.

7.4 Aansoek om lidmaatskap word deur die Kantoor van die Volksekretaris hanteer en word deur die Volksekretaris, handelende namens die BVR bevestig.

7.5 Die BVR het die reg om enige aansoek om lidmaatskap af te keur, sonder opgaaf van redes.

7.6 Indien 'n lid skuldig bevind word aan 'n misdryf, of weens sy gedrag aanstoot gee aan ander lede van die Boerevolk , of indien 'n lid die Boerevolk deur sy openbare optrede in onguns bring, kan die BVR, na ondersoek, so ‘n lid se lidmaatskap beëindig. So ‘n beëindiging is finaal.

7.7 Lidmaatskap van Organisasies

7.7.1 Verenigings of instellings wat soortgelyke doelstellings nastreef as die BVR, kan toegelaat word as ‘n geaffilieerde organisasie van die BVR. Die leier van die organisasie dien ex officio op die Instituut vir Samewerking en Ontwikkeling (ISO).

7.7.2 Die BVR verkry geen gesag of inspraak oor die geaffilieerde organisasie nie, tensy ‘n wedersydse en geskrewe ooreenkoms bereik word.

7.7.3 ‘n Geaffilieerde Organisasie kan sy eie struktuur gebruik om afsonderlike Wa-Laers op te rig en sodoende sy eie leiers deel te laat vorm van die Laer struktuur binne die spesifieke geografiese gebied.

7.7.4 Afsonderlike lede van bogenoemde organisasies het dieselfde regte en verpligtinge as enige ander lid op voorwaarde dat:
7.7.4.1 die lid die Tien beginsels van die Boer onderskryf;
7.7.4.2 registreer om opgeneem te word in die Volksregister;
7.7.4.3 aanvaar word as lid.


8. Administrasie

8.1 Die Kantoor van die Volksekretaris.

8.1.1 Die administrasie van die BVR word behartig deur ’n Sekretaris wat bekend sal staan as die Volksekretaris, en die nodige administrasie stelsel by die hoofkantoor, wat bekend sal staan as die Kantoor van die Volksekretaris, daarstel.

8.1.2 Die Volksekretaris moet n stemgeregtigde lid van die Boerevolk wees.

8.1.3 Hy/sy is ‘n aangestelde amptenaar van die BVR en mag uit die lede van die BVR aangestel word.

8.1.4 Die hoofkantoor van die BVR bestaan uit die BVR en die nodige personeel.

8.2 Indien nodig kan provinsiale kantore, streekkantore, en selfs takkantore met goedkeuring van die BVR tot stand gebring word.

8.3 Hierdie kantore sal bedryf word onderhewig aan die administratiewe reëls soos deur die BVR neergelê.

8.4 Die BVR moet toesien dat daar ‘n behoorlike rekenaarprogram ontwikkel word om die administrasie effektief te kan hanteer.

9 Funksies en bevoegdhede van die Volks verteenwoordigende Vergadering (VVV)

9.1 Die VVV word saamgestel deur al die verkose en aangewese leiers binne die Laerstruktuur.

9.2 Gewone lede mag die vergadering bywoon mits lidmaatskap bevestig kan word.

9.3 Die VVV moet die finansiële verslag wat deur die BVR voorgelê word, goedkeur.

9.4 Die VVV kan mosies, aanbevelings en versoeke aan die BVR maak. Die BVR moet binne 30 dae na die VVV, oor die mosies en aanbevelings en versoeke ‘n besluit neem en deur die Laerstruktuur terugvoering gee.

9.5 Die VVV vergader jaarliks en sal na behoorlike kennisgewing aan die Laerstruktuur, deur die BVR gereël word.

9.6 Behoorlike kennisgewing sal tenminste drie maande voor die vergadering deur die Laerstruktuur geskied.

9.7 Die voorsitter van die BVR sal as Voorsitter van die VVV optreë en die Volksekretaris sal as sekretaris van die VVV optree.

10. Bestuur en Samestelling van die BVR

Die volgende reëls is op die BVR van toepassing:

10.1 Die BVR bestaan uit minstens drie (3) en hoogstens twaalf (12) Stemgeregtigde lede van die Boerevolk.

10.2 Kandidate vir die BVR word aangewys uit die hoogste hiërargie binne die Laerstruktuur, soos in Artikel A06 (die Reels om Laers op te rig) uiteengesit.

10.3 Aangesien die Laerstruktuur ‘n dinamiese stelsel is, moet daar noukeurige en volgehoue opdatering van groeperings binne die Laerstruktuur plaasvind. Die groepering, hergroepering en skakeling sal die verantwoordelikheid van die BVK wees en sal deur die Kantoor van die Volksekretaris geadministreer word.

10.4 Indien nodig, kan die BVK ‘n Streeks vergadering of ander groeperinge binne die Laer struktuur, na gelang van groei, ontwikkeling en behoefte, byeenroep om die hergroepering van Laers te vergemaklik.

10.5 Indien daar 'n vakature op die BVR ontstaan, om welke rede ook al, word die vakature aangevul deur die BVR vanuit die Laer stelsel se top hiërargie volgens Artikel A(06).

10.6 Die BVR vergader minstens vier (4) keer per jaar maar mag enige tyd, na behoorlike kennisgewing, byeenkom.

10.7 Die BVR mag bykomende lede vir bepaalde opdragte koöpteer. Sodanige lede het nie stemreg binne die BVR nie, en sy dienstermyn dien vir die duur van die opdrag.

10.8 Die BVR Kies uit eie geledere:

10.8.1 ‘n Voorsitter. In sy termyn sal hy optree as Voorsitter van die BVR asook van die VVV.

10.8.2 'n Ondervoorsitter wat by afwesigheid of onvermoë van die voorsitter optree as voorsitter van die BVR;

10.8.3 Een addisionele lid wat as sekretaris van vergaderings mag optree indien die Volksekretaris nie gekoöpteer word nie.

10.8.4 Die Volksekretaris kan van tyd tot tyd gekoöpteer word en vorm dan deel van die vergadering, maar het nie stemreg nie, tensy hy as volle lid van die BVR aangewys is.

10.9 Een meer as die helfte van die aangewese Raadslede, sal vir n termyn van twee jaar dien terwyl die ander slegs vir een jaar sal dien met dien verstande dat die BVR by sy eerste vergadering bepaal watter lede gedurende die eerste termyn slegs een jaar sal dien. Alle lede van die BVR wie se ampstermyn verstryk het, is herkiesbaar.

10.10 Nuwe lede wat toegevoeg word tot die BVR, sal deur die BVR op ‘n rotasie basis vir ‘n tydperk van een of twee jaar toegewys word met inagneming dat die twee groepe min of meer gelyk moet bly.

10.11 ’n Betaalde amptenaar van die BVR mag in 'n raadgewende hoedanigheid in die BVR dien, maar het geen stemreg nie, tensy die BVR uitdruklik ’n besluit neem oor ’n bepaalde amptenaar en dit so notuleer.

11 Interim reëlings tydens en na die Stigtingsvergadering.


11.1 Die aanwysing van lede van die BVR sal voortdurend volgens n hiërargiese orde plaasvind en wel vanaf die hoogste posisie na onder volgens artikel 9.1 van die Grondwet..

11.2 Die eerste vergadering van die VVV sal bepaal hoeveel lede op die eerste BVR sal dien.

11.3 As tussentydse reëling, sal daar drie maande na die stigting en weer nege maande na die Stigtingsvergadering, opvolgvergaderings van die VVV plaasvind. Daarna sal die VVV jaarliks vergader.



12 Funksies, bevoegdhede van, en opdragte aan die BVR

12.1 Die BVR word aangewys deur die VVV namens die Boerevolk en besit dus bewese steun en locus standi om verdere opdragte te ontvang namens die Boerevolk soos verwoord deur die VVV.

12.2 Na aanleiding van die VVV se besluite, geneem op 9 Desember 2006, word dit aan die BVR opgedra om:

12.3 namens die Boerevolk ONAFHANKLIKHEID te verkry op so n wyse as wat die BVR nodig vind en kan aanwend binne die Grondwet van SA, sowel as binne die Riglyne en proklamasies soos neergelê deur die Verenigde Nasies, en aanvaar deur die breëre Internasionale gemeenskap;

12.4 namens die Boerevolk betrokke te raak (indien nodig deur die nodige Kundiges aan te stel) by aansprake, eise en onderhandelings, aksies of aangeleentheid, wat ‘n bydrae kan lewer aan die pogings om ONAFHANKLIKHEID vir die BOEREVOLK te bewerkstellig;

12.5 Om die beeld, persepsies en indrukke van die Boerevolk in die Internasionale gemeenskap te bevorder en om met die nodige rolspelers te skakel, beding, verhoudinge op te bou en sodoende die nodige inligting en kennis oor te dra ten opsigte van die Boerevolk se reg op selfbeskikking en onafhanklikheid, in terme van die Internasionale gemeenskap se aanvaarding van onafhanklikheid van Volke.

12.6 dringende aandag te skenk aan die uitbou van die ondersteuningsbasis van die Boerevolk deur die Laerstruktuur te bevorder en uit te bou, die leier element uit die Boerevolk saam te voeg en toe te rus om sodoende die nodige Volks mobilisasie te bevorder;

12.7 ‘n behoorlike Administrasie van die Laer stelsel uit te bou en te onderhou deur toe te sien dat:

12.7.1 aansoeke om lidmaatskap van die Boerevolk oorweeg word of beëindig word deur die nodige infrastruktuur te ontwikkel en te bevorder ten einde ‘n behoorlike Administrasie van die Laer stelsel te bedryf;

12.7.2 'n bankrekening in die naam van die BVR geopen en bedryf word;

12.7.3 'n finansiële beleid vir die BVR vasgestel word, en te verseker dat daar aan streng rekenkundige beheer en maatstawwe voldoen word;

12.7.4 Die nodige poste wat nodig mag wees om die werksaamhede van die Boerevolk doeltreffend uit te voer, geskep word;

12.7.5 ‘n personeelbeleid vir die personeel in diens van die BVR vasgestel word, waarin voorsiening gemaak word vir gesonde personeel gebruike;

12.7.6 'n dagbestuur aangestel word, wat bestaan uit die voorsitter en ondervoorsitter en twee lede van die BVR, om dringende aangeleenthede te hanteer waaroor hulle by die BVR se eersvolgende vergadering verslag moet doen;

12.7.7 jaarliks, of as dit nodig mag wees, vir korter tydperke, begrotings opgestel word;

12.7.8 werkwyse en reëls opgestel word vir gesonde vergaderings praktyke;

12.8 komitees aan te stel met spesifieke opdragte en take;
12.8.1 daar mag in sodanige komitees, persone dien wat nie noodwendig lede van die BVR is nie, ten einde enige kundigheid te bekom en om werksaamheid van die BVR te verrig, met dien verstande dat die voorsitter van so 'n komitee `n lid van die BVR moet wees, en dat besluite van so ‘n komitee by die volgende vergadering aan die BVR voorgelê moet word vir bekragtiging.

12.8.2 Die BVR bevoeg is om 'n maatskappy sonder winsbejag op te rig, kragtens die maatskappyewet van die republiek van Suid-Afrika, om enige of alle werksaamhede van die BVR te verrig, met dien verstande dat so 'n handeling nie die voortbestaan van die Boerevolk in gevaar stel nie en die BVR die direksie van so 'n stigting of Maatskappy sal vorm; Terugvoering sal by die eerste opvolgende VVV gegee word;

12.8.3 ‘n Lid van die BVR mag nie enige direkte af indirekte belang hê by, of voordeel trek uit enige kontrak wat die BVR met enige organisasie of persoon mag aangaan nie, tensy die BVR dit uitdruklik goedkeur na ‘n deursigtige, vrye, markgedrewe en openbare proses of werkwyse, sonder enige onregverdige bevoordeling van enige persoon of instelling.

12.8.4 enige van die werksaamhede van die BVR mag opgedra of gedelegeer word aan enige lid van die BVR, enige bestuurslid van 'n provinsiale, of streek- of takkantoor, aan enige lid van die Boerevolk of enige werknemer van die Boerevolk; met die uitdruklike voorwaarde dat die BVR die verantwoordelikheid vir sodanige taak of opdrag sal behou;

12.8.5 die BVR namens die Boerevolk by enige regsgeding betrokke mag raak, instel of verdedig en kan vir dié doel een of meer lede van die BVR magtig om alle nodige dokumente op te stel of te laat opstel; Terugvoering sal by die eerste opvolgende VVV gegee word;

12.8.6 die BVR konferensies en ander byeenkomste mag beplan en reël;

12.8.7 die BVR die wyse waarop daar kennis gegee sal word van alle vergaderings van die BVR en subkomitees sal bepaal en vasstel, met dien verstande dat, uitsluitend dringende vergaderings –

12.8.7.1 Daar vir die verskillende vergaderings minstens 30 dae, vooraf kennis gegee word; en
12.8.7.2 Daar 'n volledige sakelys in die kennisgewing vervat moet wees;

12.9 besluit binne 30 dae oor aanbevelings en mosies van die VVV en lewer verslag daaroor aan die eersvolgende VVV.

12.10 Lewer gereeld skriftelik verslag deur die Laerstruktuur aan sy lede oor sy werksaamhede tydens die voorafgaande boekjaar, en lê die verslag voor aan die eersvolgende VVV.

12.11 Stel ondersoek in na enige ongerymdhede wat mag ontstaan, en neem die nodige tugstappe soos wat die BVR dienstig ag;

12.12 Neem kennis van enige griewe of aanbevelings wat deur die Laerstruktuur geprosesseer word en neem (afhangend van die dringendheid) binne 30 dae vanaf ontvangs ‘n besluit daaroor.

12.13 Kom ander funksies na wat nie bots met die missie en visie van die Boerevolk en/of die bepalings van die VVV nie en wat die bestaansdoel van die stigting sal bevorder.




13 Algemene Bepalings vir Vergaderings

13.1 Die volgende bepalings geld vir vergaderings van die BVR:

13.2 Kworum

13.3 Die volgende kworum reëls sal geld by die alle vergaderings binne die Laerstruktuur:

13.3.1 Die vergadering vorm ‘n kworum wanneer een meer as die helfte van die lede van daardie besondere vergadering teenwoordig is.

13.3.2 Op 'n VVV of 'n buitengewone VVV vorm drie-en-dertig komma drie persent (33,3%) plus een, van die aantal Leiers (alle vlakke van toepassing), wat op daardie gegewe oomblik deel van die Laerstruktuur uitmaak, ‘n kworum.

13.3.3 Indien daar 30 minute verloop het vanaf die vasgestelde tyd en datum van enige vergadering nie genoeg lede teenwoordig is om ‘n kworum te vorm nie, word die vergadering uitgestel tot dieselfde tyd en plek sewe (7) dae later, by welke geleentheid die aantal lede wat dan teenwoordig is ’n kworum sal uitmaak.

13.4 Prosedure by vergaderings

13.4.1.1 By vergaderings geld die volgende Algemene prosedures:

13.4.2 Die voorsitter van 'n vergadering beslis oor die werkwyse en reëls wat op die vergadering gevolg sal word, onderworpe aan die reëls wat opgestel is ingevolge artikel 10.5.8

13.4.3 As beide die voorsitter en die ondervoorsitter afwesig is, kies die lede wat teenwoordig ’n persoon uit hul midde om op daardie vergadering as voorsitter op te treë.

13.4.4 By 'n staking van stemme het die voorsitter, 'n beslissende stem benewens sy gewone stem as lid van die vergadering.

13.4.5 Ander Vergaderingsprosedures word in Artikel A06 uitgespel.

13.4.6 dryf of mag laat bedryf nie, tensy die magtiging daarvoor kragtens enige ander wet vooraf daarvoor verkry is.

13.4.7 Fondse wat vir belegging beskikbaar is, mag slegs belê word by geregistreerde finansiële instellings soos omskryf in artikel 1 van die wet op finansiële instellings (belegging van fondse), 1984, en in aandele wat op 'n gelisensieerde effektebeurs genoteer is, soos omskryf in die wet op beheer van effektebeurse, 1985 (wet 1 van 1985).



13.5 Buitengewone Vergaderings (BV.)

13.5.1 Daar kan op enige vlak binne die Laerstruktuur ’n buitengewone vergadering belê word.

13.5.2 Kennis moet tenminste sewe dae voor die vergadering aan alle rolspelers wat by die vergadering betrokke is gegee word.

13.5.2.1 As uitsondering moet vir ’n Buitengewone VVV, asook vir ’n Buitengewone vergadering van Hoofkommandante, tenminste 30 dae voor die vergadering, aan alle betrokkenes kennis gegee word.

13.5.3 So ’n kennisgewing moet skriftelik geskied en die volgende inligting bevat:

13.5.3.1 Die name en handtekeninge van tien lede (by ’n Walaer uitgeslote waar slegs vyf name nodig is)
13.5.3.2 Die saak wat op die sakelys geplaas is,
13.5.3.3 Die datum, tyd en plek van die vergadering.


14 Finansies

14.1 Die volgende finansiële reëls geld:

14.2 Die BVR beskik oor sy eie fondse en oefen beheer daaroor uit.

14.3 Die BVR moet n stelsel in plek kry, om insae en kontrole oor Laer-fondse uit te oefen.

14.4 Die BVR samel fondse in by wyse van enige wettige metode, met dien verstande dat die gebied waarin opgetree en waarin bydraes ingesamel sal word, nie beperk is tot die Republiek Van Suid-Afrika is nie; met dien verstande voorts dat die organisasie geen kompetisie, wedstryd, spel, skema, reëling of stelsel waarmee die een af ander prys gewen kan word, mag be ie BVR moet tydens die (VVV) 'n geouditeerde finansiële verslag voorlê.

14.5 Fondse word aangewend om uitgawes te dek wat aangegaan mag wees tot die uitvoering van die werksaamhede van die BVR.

14.6 Die Volksekretaris het volmag om transaksies aan te gaan wat deur die BVR goedgekeur is.

14.7 Tjeks moet onderteken word deur minstens twee daartoe aangewese lede van die BVR.

14.8 'n Finansiële verslag moet by elke vergadering van die BVR voorgelê word.

14.9 Geen wins of ander voordele mag aan iemand uitgedeel word nie, en beskikbare fondse moet uitsluitlik aangewend word vir belegging kragtens artikel 14.3? van die grondwet, of vir die bevordering van die belange van sy lede.

14.10 Die bedrywighede van die BVR moet geheel en al gemik wees ter bereiking van sy enigste doelwit, soos uitgespel.

14.11 Die BVR mag besigheid soos gewone handelsaktiwiteite en spekulatiewe transaksies bedryf , en mag ook eiendom aankoop met die bedoeling om huurinkomste daaruit te verkry. Sodanige besluite deur die BVR geneem, moet tydens die eerste opvolgende VVV vir kennisname voorgelê word.


15 Vertolking van die grondwet

15.1 In die geval waar lede verskil oor die vertolking van hierdie grondwet, is die beslissing van die Voorsitter van die Volks verteenwoordigende Vergadering (VVV) finaal en bindend.


16 Geskilbeslegting: arbitrasie

16.1 Die BVR mag hom tot arbitrasie wend indien hy in dispuut met 'n persoon of 'n instansie verkeer en hy die probleem of probleme nie bevredigend kan oplos nie; in welke geval die bevindings en aanbevelings van die arbiter beslissend sal wees.

17 Wysiging van die grondwet

17.1 Hierdie grondwet kan slegs gewysig word met ‘n tweederde meerderheid van die teenwoordige lede 'n wettig-gekonstitueerde Volksverteenwoordigende Vergadering (VVV) (of buitengewone ledevergadering) waarvan daar toepaslik kennis gegee is met vermelding van die beoogde wysiging.


Hierdie tussentydse grondwet is goedgekeur te Nkwe vakansieoord op die 21ste dag van April 2007
Geteken deur die aangewese ampsdraers van die BVR.




_________________________________ _________________________________

Voorsitter van die BVR Sekretaris van die BVR
AANHANGSEL TOT DIE GRONDWET A(06)

A. AGTERGROND
Die BOEREVOLK VRYHEIDSTIGTING (BVS) is in 2005 gestig.
1. Die BVS het ’n administratiewe koördinerende kantoor, bekend as die Kantoor van die Volksekretaris (KVS) tot stand gebring. Hierdie kantoor sal alle beplanning, aksies, organisatoriese aangeleenthede, alle dokumentasie rakende die Boerevolk , asook die stigting van Waens en Laers hanteer en koördineer.
2. Die BVS het ’n verkiesingskommissie tot stand gebring wat bekend sal staan as die Boerevolk Verkiesingskommissie (BVK). Die BVK het opdrag om die nodige stappe en beplanning te doen om ’n wettige verteenwoordigende aanvaarde liggaam of BVR, wat die Boerevolk kan verteenwoordig, d.m.v. ’n verkiesing tot stand te bring.
3. Die BVK het die volgende model ontwerp volgens Bybelse beginsels soos neergelê in Eksodus 18:21: "Maar kies uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat. En stel die aan oor hulle: owerste oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien."
4. Volgens hierdie beginsels word die volgende model opgerig:

Die BOUSTEEN van die laer is ’n WALAER (8-15 lede) en die Wa-leier die Rentmeester.
4-7 waens vorm ‘n TREKLAER en die Trekleier die Rentmeester.
8-15 waens( 2Groepe)vorm ‘n BOERELAER en die Laerkommadant die Rentmeester.
8-15 BOERELAERS vorm ‘n HOOFLAER en die HOOFKOMMANDANT die rentmeester


B. STRUKTUUR:

Die Struktuur word gevorm uit a)Laers en b) Leiers (Rentmeesters)

a) Die Beskrywing van Laers.

1. ’n Walaer (of Wa )
1.1 'n Walaer bestaan uit 8-15 geregistreerde, stemgeregtigde Volksgenote.

1.2 Hierdie Walaer kom tot stand wanneer vriende, familie of kennisse besluit om deel wees van die Boerevolk en te help om struktuur daaraan te verleen.

1.3 Groepe met deur spesifieke belange met mekaar verbind kan word, soos jeug, kultuur, landbou, ens. Kan ook n Walaer tot stand bring.

1.4 Die oprigting van ’n Walaer geskied volgens reëls soos van toepassing op ‘n Stigtings-vergadering of n Afstigtings-vergadering.

1.5 Die Walaer kan ook in die kuberruimte tot stand kom wanneer kubervolksgenote wat aan die reëls voldoen, met mekaar op n gestruktureerde wyse wil assosieer.

1.6 ’n Walaer vorm die bousteen van die groter struktuur maar kan ook as sosiale groep, belangegroep, of godsdienstige groepering, funksioneer.

1.7 Walaers wat as belangegroepe tot stand kom, kan op versoek, deur die KVS in groter laers, ongeag die geografiese verspreiding, groepeer word.

2 ’n Treklaer

2.1 vorm ’n subeenheid van die Boerelaer en bestaan uit 4-7 Waens.

2.2 ’n Treklaer kom volgens sekere reëls tot stand, sodra 4 tot 7 Walaers so besluit.
2.3 Die Treklaer kan ook as ’n sosiale eenheid, belangegroep, of godsdienstige groepering funksioneer.

3 ’n Boerelaer
3.1 Dit is die ideale funksionele eenheid waarmee die Volk gestruktureer sal word.

3.2 Die Boerelaer kom tot stand wanneer twee Treklaers of 8-15 Waens wat geografies of demografies (selfs op Internet) verband het.

3.3 Die Boerelaer vorm die boustene van die Hooflaers.

3.4 Die Boerelaer word volgens sekere reëls opgerig.

3.5 Die Boerelaer kan ook as ’n sosiale eenheid, belangegroep, of godsdienstige groepering funksioneer.

4 ’n Hooflaer
4.1 word gevorm deur 8-15 Boerelaers.
4.2 Die Hooflaers verteenwoordig ‘n sekere geografiese- of demografiese gebied maar kan ook as ’n sosiale eenheid, belangegroep, of godsdienstige groepering funksioneer.

b) Die aanwysing van Leiers

Die uiteensetting van die verskillende leiers word hier slegs genoem, terwyl die reëls waarvolgens die verkiesing plaasvind, later volg. (kyk D.)
Die Leiers van die Boerevolk sal optree as Rentmeesters vir die Lede binne Laer verband. Hulle moet hul leierskap as n opdrag, taak en verantwoordelikheid aanvaar. Wanneer daar leiers gekies word, moet hierdie kriteria in gedagte gehou word.

1. Die Wa-leier
1.1 'n Wa-leier word verkies nadat die Walaer tot stand gekom het.
1.2 Die Wa-leier ageer as die “Owerste oor Tien” en dien as Rentmeester oor sy Wa. Hy/sy is verantwoordelik vir alle reëlings, verhoudings, dissipline, kommunikasie en aksies binne Walaer verband.
1.3 Die verkiesing van die Wa-leier vind tydens die Walaer Stigtingsvergadering plaas.
1.4 Die lede van die Walaer, kies die Wa-leier, sowel as ’n Onderleier uit hul eie geledere.
1.5 Sodra n Wa-leier aangestel word as Trekleier, neem die Onderleier oor as Leier en word ’n nuwe Onderleier in sy plek gekies.

2 Die Trekleier.
2.1 Sodra vier Walaers (4-7) tot stand gekom het, kom die betrokke Wa-leiers bymekaar en kies ’n Trekleier asook ’n Onder leier uit die betrokke Wa-leiers.
2.2 'n Trekleier ageer as “Owerste oor 50”, dien as Rentmeester oor die Laers eat binne Treklaerverband onder hom groepeer is en is verantwoordelik vir alle reëlings, verhoudings, dissipline, kommunikasie en aksies binne hierdie verband.
2.3 Indien ’n Trekleier aangestel word as Boerelaer Kommandant, neem die Onderleier oor as Leier en word ’n nuwe Onderleier in sy plek gekies.
2.4 Die Trekleiers vorm saam met die Laerkommandant die Boerelaer Raad.(BR)

3 Die Laerkommandant.
3.1 Die betrokke Wa-leiers, sowel as die Trekleiers verkies die Laerkommandant uit húlle geledere.
3.2 Die Trekleiers tree op as die Laerkommandant se Adjudante en vorm saam met hom die BR.
3.3 Die Laerkommandant ageer as “Owerste oor 100”, en dien as Rentmeester oor die Laers wat binne Boerelaerverband onder hom groepeer is. Hy is verantwoordelik vir alle reëlings, verhoudings, dissipline, kommunikasie en aksies binne hierdie verband.
3.4 Indien n Laerkommandant as Hoofkommandant verkies word, neem die onderleier by hom oor as Laerkommandant en moet die Wa-leiers binne Boerelaerverband, ’n nuwe Onderleier uit die Trekleiers aanwys.

4 Die Hoofkommandant.
4.1 Die Hoofkommandant word uit die 8 tot 15 Laerkommandante onder hom aangewys.
4.2 Hierdie aanwysing van Hoofkommandante sal op 9 Desember 2006 vir die eerste keer plaasvind.
4.3 Die Hoofkommandante vorm outomaties deel van die BOEREVOLK . (BVR)
4.4 n Hoofkommandant is verantwoordelik vir alle kommunikasie, reëlings en organisasie ten opsigte van die Hooflaer en alle Boerelaers in die Hooflaer waaroor hy as Rentmeester moet dien en ageer as die “Owerste oor 1000.”

Vergaderings en Rade
Die Boerelaer Raad (BR).
4.5 Die Hoofkommandant met sy adjunkte (2–3 Trekleiers), vorm saam die Boerelaer Raad of BR.
4.6 Die BR, staan die Laerkommandant by in sy uitvoering van sy verantwoordelikhede ten opsigte van reëlings, verhoudings, kommunikasie en aksies binne Boerelaer verband.
4.7 Wanneer nodig kan al die Wa-leiers binne Boerelaerverband bymekaargeroep word vir ’n Boerelaer Vergadering.

5 Boerelaer vergadering
5.1 ‘n Boerelaer vergadering kan deur die BR saamgeroep word en bestaan uit al die Volksgenote wat lede is van die verskillende Walaers.
5.2 Tydens so ‘n vergadering kan alle sake wat die Boerelaer raak bespreek word.
5.3 Die vergadering kan slegs aanbevelings maak en kan nie besluite afdwing nie.
5.4 Volledige verslag oor die vergadering moet na die BVR deurgestuur word.

6 Die BOEREVOLK Verteenwoordigende Raad (BVR)
6.1 Die BVR tree op as Uitvoerende en verteenwoordigende liggaam van die Boerevolk
6.2 Die BVR wys die Verteenwoordiger van die Boerevolk aan wanneer nodig.
6.3 Die BVR wys ook die Dagbestuur aan.

7 Die Dagbestuur van die BVR.
7.1 Die Voorsitter van die BVR tree as voorsitter van die Dagbestuur op.
7.2 Die kandidaat wat die tweede meeste stemme kry, tree op as Onderleier en die kandidaat wat die derde meeste stemme kry as addisionele lid van die Dagbestuur.
7.3 Dit vorm die Driemanskap wat op die Dagbestuur van die Boerevolk sal dien.
7.4 Die Volksekretaris is ex officio lid van die Dagbestuur sonder stemreg tensy hy amptelik as lid van die BVR aangewys is.

C. REËLS VIR DIE TOTSTANDKOMING VAN DIE STRUKTURE

1 Die oprigting van n Walaer (Stigtingsvergadering)
1.1 Sodra 8 (tot 15) stemgeregtigde volksgenote die nodige dokumentasie voltooi het, kan n Walaer opgerig word.
1.2 Die persone teenwoordig moet n kworum vorm, dit is die helfte van die (potensiële/moontlike) betrokkenes, + een.
1.3 ’n Wa-leier kan onmiddellik aangewys word.
1.4 Enige persoon kan as sameroeper optree.
1.5 Die vergadering besluit of die verkiesing van die wa-leier kan per hand of per stembrief geskied.
1.6 Indien daar gelyke stemme is, moet per stembrief weer gestem word.
1.7 Indien steeds gelyk, het die sameroeper die beslissende stem.
1.8 Tenminste drie name vir die Walaer moet genomineer word.
1.9 Hierna moet die verkose Wa-leier al die dokumente volgens voorskrif hanteer, asook die Stigtingsvorm volledig voltooi. [ WA-1].
1.10 Daar moet tenminste een Vonkposadres vir die Walaer beskikbaar wees vir kommunikasie.
1.11 Alle dokumentasie moet per vonkpos gestuur word maar kan ook per hand, of per slakkepos, aan die KVS besorg word.
1.12 Die inligting kan ook volledig op die webwerf: (Plaaswerf) www.boerevryheid.co.za geplaas word.
1.13 Sodra die dokumentasie deur die KVS ontvang is, sal alle inligting deur die BVS op die rekenaar geplaas word en sodra dit verwerk is, sal alle inligting na die Vonkposadres, of gewone posadres, soos aangedui, aangestuur word. [WA-2] Hierdie inligting moet deur die Wa-leier as konfidensieel hanteer word.
Dit sluit in:
1.1.1 Die naam van die Walaer
1.1.2 Die name van die lede van die Walaer
1.1.3 Die naam van die Wa-leier.
1.1.4 Die vonkposadresse op die Plaaswerf: abc(@boerevryheid.co.za) aan diegene wat aandui dat hulle so ‘n adres wil bekom. (teen R20 per maand)
1.1.5 Die toegang name en sleutel kodes van die lede tot die Plaaswerf.
1.1.6 Die BID (Boervolk Identiteitsdokument)
1.1.7 Die “sertifikate van lidmaatskap” van die verskillende lede.
1.1.8 Die name van ander Walaers waarby aangehaak kan word.
1.1.9 Die naam en kontakbesonderhede van die Treklaer waar van toepassing
1.1.10 Die naam en kontakbesonderhede van die Boerelaer waar van toepassing
1.1.11 Die naam en kontakbesonderhede van die Hooflaer waar van toepassing.
1.2 Sodra terugvoering (n WA-2 vorm) vanaf die KVS ontvang is, is die Walaer amptelik gestig.
1.3 Die geografiese ligging en adres van die Laer sal bepaal word deur die fisiese adres van die Wa-leier.

2 Afstigting van n Walaer
2.1 Sodra daar meer as 15 lede in ‘n Walaer is, moet ‘n AFSTIGTINGSVERGADERING belê word.
2.1.1 Die BVS moet in kennis gestel word en goedkeuring gee vir afstigting.
2.1.2 Alle lede van die bestaande Wa-laer moet kennis kry van die vergadering.
2.1.3 Die kennisgewing moet tenminste vyf dae voor die VERGADERING ontvang word.
2.1.4 Die nodige vorms (twee WA03 vorms) moet beskikbaar wees.
2.1.5 Indien daar ‘n Treklaer bestaan, moet die Trekleier as voorsitter optree.
2.1.6 Indien daar nie n Treklaer bestaan nie, moet die Wa-leier as voorsitter optree.
2.2 Die verdeling moet sover moontlik met ‘n gesindheid van ooreenstemming (konsensus) geskied.
2.3 Indien daar nie ooreenstemming bereik word nie, sal die Voorsitter die finale besluit neem.
2.4 Indien daar nog steeds ongelukkigheid bestaan, sal die Laerkommandant se besluit finaal wees.
2.5 Indien daar nog nie ’n Laerkommandant bestaan nie, sal die KVS die nodige verdeling fasiliteer.
2.6 Die oorspronklike Wa-leier bly by die oorspronklike groep (naam) aan as Wa-leier.
2.7 Na verdeling moet die reëls soos in (C.1) uiteengesit volledig nagekom word.
2.8 Die admin bly basies dieselfde, die enigste verskil is dat daar twee WA-3 vorms ingevul moet word, een vir elke Walaer wat nou tot stand sal kom.
2.9 Die oorspronklike Wa-leier moet verantwoordelikheid aanvaar om die ingevulde twee Wa-3 vorms by die KVS te besorg.
2.10 Sodra terugvoering per WA-4 vorms by die onderskeie Walaers ontvang is, het afstigting amptelik geskied.

3 Vorming van ‘n Treklaer
3.1 Sodra daar meer as 3 (4 tot 7) Walaers in ‘n gebied opgerig is, moet ‘n Treklaer gevorm word.
3.2 Die Wa-leiers moet ‘n Treklaer stigtingsvergadering belê:
3.2.1 Die KVS moet in kennis gestel word.
3.2.2 Al die betrokke wa-leiers moet teenwoordig wees.
3.2.3 Daar moet ‘n TR-1 vorm beskikbaar wees.
3.2.4 Indien daar reeds ‘n Laerkommandant vir die groep bestaan, moet hy as voorsitter optree.
3.2.5 Indien daar nog nie ‘n Laerkommandant bestaan nie, kan enige van die Wa-leiers as voorsitter optree.
3.3 Die Wa-leiers kies ‘n Trekleier deur met mekaar ooreen te kom.
3.3.1 Indien nodig kan besluit word om per stembriefie te stem.
3.3.2 Indien om een of ander rede nie tevredenheid bestaan nie, kan met die KVS geskakel word.
3.4 Na die verkiesing moet die Trekleier die TR-1 vorm volledig invul en aan die KVS besorg.
3.5 Daar moet tenminste een Vonkposadres beskikbaar wees waarheen inligting vanaf die KVS deurgestuur kan word.
3.6 Die KVS sal per TR-2 vorm in kennis gestel word waarna die vorming van ‘n Treklaer amptelik is.
3.7 Die Trekleier hou die dokumentasie en moet dit as vertroulike inligting hanteer

4 Die oprigting van ‘n Boerelaer.
4.1 Sodra daar meer as 7 (8 tot 15) Walaers in ‘n gebied opgerig is, moet ‘n Boerelaer gevorm word.
4.2 Die Wa-leiers moet ‘n Boerelaer stigtingsvergadering belê:
4.2.1 Die KVS moet in kennis gestel word.
4.2.2 Daar moet ‘n kworum van die betrokke wa-leiers teenwoordig wees, soos by alle vergaderings: (die helfte + een)
4.2.3 Daar moet ‘n BL-1 vorm beskikbaar wees.
4.2.4 Die KVS sal iemand nomineer om as voorsitter tenminste drie name vir die Boerelaer voorgestel word.
4.3 Die Wa-leiers kies ‘n Laerkommandant per geslote stembrief.
4.4 Daarna moet die vergadering tenminste drie name vir die Boerelaer voorstel.
4.5 Na die verkiesing moet die Laerkommandant die BL-1vorm volledig invul en aan die KVS besorg.
4.6 Daar moet ‘n Vonkposadres beskikbaar wees waarheen inligting vanaf en na die KVS deurgestuur kan word.
4.7 Die KVS sal per BL02 vorm kennis gee aan die Laerkommandant, waarna die stigting van die Boerelaer amptelik sal wees.
4.8 Die inligting wat aan die Laerkommandant verskaf sal word, sal as konfidensieel hanteer word.

5 Afstigting van ‘n Boerelaer.
5.1 Sodra daar meer as 15 (16) Walaers in ‘n gebied opgerig is, moet Afstigting van die Boerelaer plaasvind.
5.2 Die Laerkommandant moet ‘n Boerelaer AFSTIGTINGSVERGADERING belê:
5.2.1 Die KVS moet in kennis gestel word.
5.2.2 Daar moet ‘n kworum van die betrokke wa-leiers teenwoordig wees (die helfte +een)
5.2.3 Daar moet ‘n BL-3 vorm beskikbaar wees.
5.2.4 Die KVS sal iemand nomineer om as voorsitter op te tree.
5.3 Die Wa-leiers, in samewerking met die KVS sal die indeling van die twee nuwe Boerelaers, op grond van verskillende faktore, hoofsaaklik geografies, maak.
5.4 Nadat die Nuwe Boerelaer se Wa-leiers geïdentifiseer is, kies hulle ‘n Laerkommandant per geslote stembrief.
5.5 Dieselfde prosedures soos in (C.4) word nou verder gevolg.
5.6 Die enigste verskil is dat elkeen van die Laerkommandante ‘n BL-3 vorm volledig moet invul en aan die KVS besorg.
5.7 Daar moet ‘n Vonkposadres vir die nuutgestigte Boerelaer beskikbaar wees waarheen inligting na- vanaf die KVS deurgestuur kan word.
5.8 Nadat die inligting verwerk is, sal die KVS per BL-4 vorm kennis gee aan die twee Laerkommandant, waarna die afstigting van die Boerelaers amptelik sal wees.
5.9 Totdat dit amptelik is, geld die oorspronklike Boerelaer se struktuur.
5.10 Die inligting wat aan die Laerkommandant verskaf sal word, sal as konfidensieel hanteer word.


D. Omskrywing van sekere begrippe

1. Registrasie
Normale registrasie vind plaas nadat :
1.1 die 10 beginsels van ‘n Boer, geteken is;
1.2 die “Aansoek om toelating” tot die Volksregister voltooi en
1.3 die inligting op die Plaaswerf : boerevryheid.co.za geplaas is,
1.4 en bevestiging per Vonkpos aan die betrokke Volksgenoot vanaf die Plaaswerf ontvang is.
1.5 Alle getekende dokumente besorg is by die Kantoor van die Volksekretaris. (KVS )


2 Die 10 Beginsels van 'n Boer

2.1 Is die belydenis, die ondernemings- en ‘n verootmoedigingsaksie, waarmee elke voornemende Volksgenoot amptelik bevestig deur ondertekening, dat hy/sy geloof bely en bereid is om sigbaar deel te word van die Boerevolk .
2.2 Dit is 'n voorvereiste tot stemreg en tot die aanstelling in n Leierskap posisie.
2.3 Dis n voorvereiste om n BID (Boerevolk Identiteits Dokument) , met ‘n unieke persoonlike Identiteitsnommer, te ontvang.
2.4 Dis n voorvereiste om n Vonkposadres***@boerevryheid.co.za te verkry teen R20 per maand.

3 Die Volksregister word saamgestel uit alle lede van die Boerevolk

4 Stemgeregtigheid Bokant 16 jaar.

5 Die Kantoor van die Volksekretaris (KVS): is in Pretoria, Posbus 15772, Sinoville. 0129 Landlyn en faks: 012 567 5375, Loopfoon 084 834 4503,
Vonkposadres:sekretaris@boerevryheid.co.za .

6 Die Volksekretaris sal aangestel word deur die BVR. Die pos word tans beman deur Mev. Minnie Pretorius.

7 Verandering van reels Die KVS, in samewerking met die Verteenwoordigende Boerevolk BVR
[VBR] kan hierdie reëls verfyn en aanpas om in die behoeftes te voorsien. Intussen is die beslissings van die KVV bindend op die organisasie van die Boerevolk .

8 Boerevolk ondersteuners is diegene wie nie die 10 beginsels wil onderteken nie, wie nie by die strukture betrokke wil raak nie, wie nie in die Volksregister opgeneem wil word nie, wie egter die SAAK van die Boerevolk ondersteun en bereid is om n verkorte Registrasievorm in te vul.

9 Die Plaaswerf, is die naam van die webwerf: boerevryheid.co.za wat as voertuig aangewend word om alle administrasie, registrasie, die Boerevolk se register en aksies, soos die verkiesing van die Boerevolk koördineer.

-----

Tuisblad | Wie Is Ons | BKBS | Redaksie | Stoffel Sê | Die Seepkis | Wit Armoede | Video Blad | Zunft | Site Map


Back to content | Back to main menu