Main menu:
Redaksie
19/10/2008
Die Sprinhbok embleem, braking en politiek
Die debakel rondom Luke (Puke) Watson, die Springbokembleem en die binnepolitiek in die Springbok-Rugby arena, word deur Witleeu onder die loep geneem....
Dis maar goed die Springbokke speel nie hul volgende toets in Suid-Afrika nie.
Dit spaar ons die spektakel van Luke Watson, die man wat naar word van groen, wat uitgejou word deur ’n tuisskare.
Die stomme vent het sy naam behoorlik gat gemaak.
Tog, moenie verbaas wees as hy redelik ongedeerd wegstap van dié gemors nie.
Luke is glo ’n witbroodjie van die Bok-afrigter Peter de Villiers. Sy familie is ook dik pelle met Peter, afgesien van die politieke boelies wat die Watsons kan nader roep om ’n paar arms vir hul gekwelde knaap te gaan breek.
O ja, en Butana Komphela is ’n Luke-fên. Daardie “kenner?? wat dink ’n rugbywedstryd duur 90 minute en daar is ’n Springbok genaamd Os Snyman.
’n Briefskrywer, dr. Lucas Ntyintyane, skryf dié week in Business Day Komphela is soos die skandemakende oom in elke familie: gewaarborg om die verkeerde ding op die verkeerde tyd te sê.
Dis Luke se getroue aanhanger. Wie’t vyande nodig?
Die Watson-masjien met pa Cheeky vooraan het hul yslike verleentheid vrot gehanteer. As jy in ’n gat is, hou jy op grawe.
Die “verweer?? dat Luke by ’n private geleentheid gepraat het, maak dit honderd maal erger. Dis wat ’n tweegat-jakkals doen.
By monde van ’n simpatico verslaggewer is Rapport se hoofberig verlede Sondag “wraaksugtig?? genoem. Ekskuus? Toe Jake White in 2007 weier om Watson vir die Bokke te kies, het Hanlie Retief Luke geskets as ’n heel skaflike outjie.
White se kritici skuld hom eintlik ’n apologie. Hy was toe al die tyd reg – Watson het hom nou self ontbloot as ’n “ontwrigtende teenwoordigheid??.
Nugter weet hoe Watson na dese in die Bokspan gaan inpas. Die waarnemende kaptein Victor Matfield het sy uitlatings oor die Springboktrui “verfoeilik?? genoem en gesê ondanks sy en ander se pogings, wóú Watson nooit inskakel nie. Verdoemend.
Dis altyd komieklik om die manewales van ’n Engelsman gade te slaan wat uitgevang word oor neerhalendheid jeens Afrikaanse mense.
Hulle ontdek skielik ’n familielid met ’n Afrikaanse van. Wat hulle dan glo hul vrywaar van vooroordeel jeens die “Dutchmen??.
Soos Watson nou. En vier jaar gelede die redakteur van die buitelewe tydskrif Getaway, toe hy in ’n storm beland het nadat hy Afrikaanse lesers as behorende tot “die ou Suid-Afrika?? gebrandmerk het.
Ek is al baie “Dutchman?? genoem. My nog selde gepla. Soos dit ook nie die Engelse outjies gepla het wat ek Soutie genoem het nie.Want die konteks was altyd vry van aanstoot en oordeel.
Die konteks waarin Watson gepraat het, was giftig. “Dutchmen?? is die probleem. Daarom dat Afrikaanse mense glo Luke het hulle beledig.
Toe die Blou Bul-slot Geo Cronjé aan die vooraand van die Wêreldbekerrugby-toernooi in 2003 in ’n voorval beland het wat sy vooroordeel onthul het, is hy verban uit Springbok-rugby. Vir goed.
André Markgraaff het summier bedank as breier ná sy episode. Raai wat sal die rugbybase doen met ’n stoere Afrikaanse Springbok wat weier om die Nkosi-gedeelte van die volkslied te sing?
As hulle naastenby konsekwent is, sal hulle weet wat om met Watson te doen. En dit sal meer verg as net ’n pilletjie teen naarheid.
Hoekom hom teen sy sin in die Boktrui hou as duisende ander, wit en swart, enigiets sal gee vir dié eer? Intussen geniet ons Dutchies maar die Luke-grappies wat uitbroei soos kuikens …
--------