Boerevryheid2010

Werfskrop

Go to content

Main menu:


13/03/09

Stoffel Sê

13/03/09

Kom drink 'n bietjie koffie!

Julle sal wel wonder waar ek vandaan kom!

Ek is in 1967 gebore en het in die Perdeby (Tukkies se koerant) my debuut gemaak. Ek het intussen, met die oog op die Boeremag saak, ’n SC (veronderstel om Snr Advokaat te beteken)-toekenning ontvang. Ek bestaan natuurlik nie regtig nie en mens hoef jou ook nie aan my te steur nie (alhoewel ek gewoonlik die enigste een in die hof is wat die waarheid praat).

Ek is ’n Boer in murg en been, dra koedoe vel skoene uit Upington, ’n tarentaalveer uit Alldays se omgewing in my hoed, rook Magaliesbergse tabak en dra graag kruisbande en drink swart, soet, moer-koffie. Ek is dikwels redelik omstrede maar kan my standpunt verdedig (en o-ja, die meisies is mal oor my en ek is ook nog steeds nie getroud nie).

Ek is gevra om by die Koerier ‘n draai te maak en sommer so op die stoep te sit en gesels met almal wat verby loop. Natuurlik oor ‘n koppie koffie…..

Nefie, kom sit en kry vir jou koffie... Wil jy nie stop nie? Kry vir jou.
Redelik vars van agter die Magaliesberge.

Jy sê hulle noem jou Frekkie en jy is van die Stellenbosch se Vorster’s ?

My groot-groot-groot grootjie kom uit die Tarka. Naby oorle Oom Andries Pretorius (soos die ou mense gepraat het) van die plaas Letskraal, geboer. Jy weet mos, net duskant Graaf Reinette. Hy het glo vertel (so in die familie oorvertel,) dat sy Oupa deel was van die Volksrepresentanten (of so-iets) in die omgewing van 1780 daar aan die oosgrens, wat die Emigranten Boeren van daardie tyd verteenwoordig het. Hulle het hulself glo “Patriotte?? genoem. Sy tweede vrou, het glo volledig aantekeninge daaroor gemaak oor hoe hulle probeer het om hul eie Republieke; Graaf-Reinet in 1785, en Swellendam in 1795, tot stand te bring en ook hoe die Engelse ‘n stokkie daarvoor gesteek het. Het jy geweet dat die Boerevolk al veertien republieke tot stand gebring het so met die verloop van die geskiedenis? Hulle sê, die vyftiende Republiek is om die draai. Wat dink jy daarvan?

Maar om terug te kom by my Oer-Oupa se storie, hy het glo te vertelle gehad (soos die ou mense gepraat het), dat mense wat soos die “Boeren?? van daardie tyd gelyk het en dieselfde taal gepraat het, glo deur die staat gehuur en betaal is om die manne wat Republieke gestig het, soos Adriaan van Jaarsveld en sy vriende, te arresteer en toe te sluit. (Kan jy glo dat lede van die Boerevolk later ’n Van Jaarsveld moes teer en veer omdat hy die Boerevolk se waardes misken het?)

Later in 1815, tydens die sg. Slagtersnek opstand, het hierdie gehuurdes of huurlinge, saam met die pandoere (dis nou manne van ander velkleur, wat deur die Engelse, uniforms aangetrek is, en daarna geregsdienaars genoem is), die sg. opstandelinge in die openbaar aan ‘n galg opgehang. Het jy geweet dat die tou gebreek het en van die manne vir ‘n tweede keer gehang is?

Ons het vandag nog dieselfde soort huurlinge onder ons nè!? Sê mos: ??Ek doen maar net my werk!!?? Jy onthou seker dat die meeste van die manne wie Jopie Fourie geskiet het, ook Afrikaners was? Maar hieroor praat ons later.

Neef Frekkie, het jy geweet dat daar Bezuidenhouts betrokke was by die Slagtersnek opstand, en ook by die gebeurtenis wat die vonk was om die eerste Engelse oorlog, of soos baie dit noem, die eerste Anglo-Boere oorlog, net voor Paardekraal en Majuba, aan die gang te sit. Jy weet mos, die wa-storie by Potchefstroom? Nou hoor ek dat een van die mannetjies wat in die sg. Boeremag saak aangekla is, met ‘n direkte afstammeling van daardie Bezuidenhouts getroud is!! Wonder wafferse rebelle hulle kleintjies gaan wees nè!? Of glo jy nie in genetika nie?

Ou vriend, wat van nog ‘n koppie koffie? Ek gaan haal gou vir ons ’n vars treksel.

Nou-ja neef Frekkie, ons het nog laas oor die Emigranten-boeren aan die Oosgrens en die Bezuidenhouts van die Slagtersnek rebellie gepraat. Jy sien, die omstandighede daardie tyd was in elke opsig vir die Emigranten-Boeren ‘n frustrasie. Die inboorlinge aan die Oosgrens het hul vee en besittings gesteel, hul waens gekaap, die mense , oud en jonk vermoor, hul vrouens verkrag en al die pad was die Regering van die dag aan die kant van die misdadiger. Nee neef, ek praat nie van die jaar 2007 nie, dit was nou tydens die draai van die 18de eeu. Die geestelikes of soos hulle graag genoem wou word, die sendelinge, ek dink hul name was Read, Phillips en van der Kemp, het liegstories oor die “Boeren?? verkondig. Daar was veral een Engelsman, met die van Barrow wat deur die land gereis, en ‘n baie eensydige en vals beeld oor die karakter van die Emigranten-Boeren na die Buiteland die lig laat sien het. Dieselfde met die Sendelinge. Jy moet onthou, hulle het sommer vir hulle vrouens uit die gemeente gevat en soos hulle gemeentelede begin leef en dink. Hierdie liegstories is natuurlik as die evangelie deur Brittanje opgeslurp. Daarom het die Engelse regering die kant van die misdadigers teen die Boeren gevat. Klink al weer bekend nè !

Die hantering van die Boeren het tot gevolg gehad dat hulle ten alle koste onder die juk van Engeland wou uitkom. Dit het tot gevolg gehad dat van die Leiers soos Maritz, Retief en Trichardt sekere manifeste geskryf het. Die manifeste van hierdie leiers, het veral vier punte beklemtoon:

1. Hulle wil trek om ’n volk tot stand te laat kom wat

2. God drie-enig kan dien in ’n

3. Vry land waar hulle

4. Vry kan wees en oor hulle self kan regeer.

Jy weet Frekkie, hierdie manifeste en die ingesteldheid van die Boeren wat later as die Boerevolk bekend sou staan, het hemelsbreed verskil van die mense wat nader aan die Kaap gebly het. Hierdie mense, is waarskynlik jou voorsate en is deur die Engelse die “Cape-Dutch?? genoem. Hulle was ingesteld op handel dryf, ekonomiese voorspoed, was kosmopolities ingesteld, bereid om onder die Britse vlag te dien, en wou nooit regtig onafhanklik word nie. Hulle was heeltyd blootgestel aan uitheemse kulturele invloed en daarom nie patrioties, soos die mense aan die Oosgrens nie. Die grensboere was op mekaar aangewese, het verinheems of te wel deel van die land en sy invloed geword. Hulle was baie lief vir die grond waarop hulle geboer het en het die waardes en wette van die natuur, skriftuur en kultuur, uitgeleef. Dit het tot gevolg gehad dat hulle, sonder dat hulle dit besef het, besig was om ’n VOLK te word en deur die handhawing van ’n nuwe waardesisteem, sowel as die strewe om as volk te bestaan soos vervat in die Manifeste. Mens kan met reg beweer, en daar is verskeie geskiedskrywers wat daarmee saamstem, dat die Boerevolk se geboorte plaasgevind het tussen die jare 1784 tot 1806. (Bruwer praat ook daarvan in sy boek)

As ons nou na vandag se situasie kyk, wil dit vir my lyk of die gees van die Cape–Dutch en die gees van die Boerevolk nou nog in verskillende faksies van die Afrikanerdom voortleef. Dis die dat daar soveel verwarring bestaan. Die mense beleef ’n identiteitskrisis. Jy sal my nie glo nie, maar die vyand het hierdie identiteitsverwarring doelbewus geskep om die Boerevolk en sy patriotisme wat gepaard gaan met sy onafhanklikheid strewe, te onderdruk. Maar hieroor gesels ons ’n volgende keer. Ek moet nou eers ’n draai by die poskantoor gaan maak, ek verwag ’n dringende brief.

Dan groet ek maar eers,

Vrede vir jou vriend Frekkie!


Tuisblad | Wie Is Ons | BKBS | Redaksie | Stoffel Sê | Die Seepkis | Wit Armoede | Video Blad | Zunft | Site Map


Back to content | Back to main menu