Main menu:
Redaksie
05/01/2009
2009 Nuwejaarsboodskap aan die Boerevolk
Die nuwejaarsboodskap is op 1 Januarie 2009 op Radio Pretoria gelewer.
GEEN BOER SAL WEER 'n NORMALE LEWE KAN LEI, VOORDAT DIE BOEREVOLK NIE WEER VRY IS NIE.
'n Opsomming van die negatiewe situasie waarin die Boerevolk verkeer word uiteengesit,.....
daarna word 'n boodskap van hoop vir die Boerevolk weergegee ,..
waarna elke Boere se verantwoordelikheid om deel van die oplossing waarin ons verkeer, uitgespel word.
Nuwejaarsboodskap op Radio Pretoria,
soos gelewer deur Dr. Lets Pretorius op 1 Januarie 2009.
GEEN BOER SAL WEER 'n NORMALE LEWE KAN LEI, VOORDAT DIE BOEREVOLK NIE WEER VRY IS NIE.
Die eerste dag van Januarie is 'n gewone dag, soos al die ander dae van die jaar, 'n gewone dag op die kalender. Tog hou dit vir die mens deur die eeue iets anders in, as al die ander dae. Dit het half 'n mistieke verwagting en 'n spesiale betekenis. Dis 'n dag wat die vorige jaar met al sy gebeure finaal afsluit en vervang met 'n nuwe verwagting. Dis asof die nuwe jaar, wat op 1 Januarie begin, met 'n nuwe en vars belofte aanbreek. So asof mens in afwagting is dat iets moet gebeur, iets anders en iets spesiaal.
Ongelukkig bars hierdie seepbel van verwagting en afwagting, dikwels sommer voor die eerste helfte van Januarie verby is en dring die realiteit en besef dat dit maar weer 'n jaar soos die vorige jaar gaan wees, sonder enige genade deur. Die harde werklikheid, dat daar geen wonderwerk of spesiale verrassing op pad is nie en dat jy, jou dagtaak met die nodige verantwoordelikheid en toewyding, soos die vorige jare, sal moet afhandel. Jy sal weer, soos laasjaar, hoor van moorde, padongelukke, verkragtings en slim politieke cliché's. Daar sal waarskynlik weer 'n staatsgreep êrens in Afrika plaasvind, die Israelies en die Palestyne gaan mekaar wedersyds aanval, die oorlog in Irak gaan voortsleur en daar gaan weer storms, veldbrande en vloede op verskillende plekke plaasvind.
As ons na die Boerevolk kyk, sien ons 'n Volk wat sy vryheid verloor het. Ons sien 'n Volk in ballingskap, nie net in vreemde lande nie, maar ook in sy eie land, die land wat hy reeds met duur bloed gekoop het. Ons sien 'n Volk in diaspora soos die Israeliete van ouds. Ons jong mense en kundiges het verhuis na Kanada, Australië, New Zeeland en London. Die boerdery gemeenskap se getalle het dramaties verminder. So ook die getal Boeredokters en vele ander deskundiges. Die mense van die Boerevolk wat nie landuit is nie, sit op moedverloor se vlaktes en sug na 'n leier in 'n bruin pak om hulle te kom verlos uit die dwingelandy en ballingskap waarin hulle verkeer.
Dit is die sombere prentjie wat 'n nuwe jaar vir die Boerevolk kan inhou. Tog, nadat ek met hierdie negatiewe inleiding begin het, wil ek vir 'n oomblik, deur 'n nuwe bril na die Boerevolk kyk. Die Boerevolk is die afgelope drie jaar, weer besig om op te staan. Die Boerevolk is weer besig om na 'n hibernasietyd van amper 100 jaar wakker te word. Die Boerevolk is besig met 'n herontdekking van sy identiteit, n herontwaking van sy Volkwees en regte, wat nie gekeer sal word nie. Ek hoor weer die jong manne wat met durf praat. Ek bespeur weer 'n trotse klank wanneer ek iemand hoor se: "Ek is 'n Boer." Ek merk deesdae al meer die Vierkleur op mense se motors en hemde op. Net eergister ontmoet ek n forse jong man en op sy hemp staan gedruk: Die BOER is hier om te bly" Verlede jaar se Majubafees, was die grootste ooit. Die afgelope Gelofte feeste, is ten spyte daarvan dat dit in die middel van die week was, met groterwordende getalle bygewoon. Die aantal feeste wat gehou is, neem ook die laaste twee jaar sigbaar toe. Dit is verblydend en bemoedigend. Die Webblad van boerevryheid, groei met dubbelsyfers per dag. Die Volksregister van die Boerevolk, groei ook met dubbelsyfers per dag. Dan het daar ook verskeie opwindende geleenthede op die pad van die BVR beland, wat in die nuwe jaar dringende aandag gaan verg. Ons berig graag by 'n later geleentheid hieroor. Verder is die God van die Boerevolk, die God van Bloedrivier, besig om die vyand van die Boerevolk, soos by Bloedrivier, in verwarring te bring. Wie sou 'n jaar terug voorspel het dat die sg. onaantasbare ANC sou verkrummel? Dit is die hand van ons hemelse Vader.
Dit herinner ons aan Josafat wat in aantog na die vyand, die boodskap ontvang het: 2 kronieke 20 vers 20 tot 22 se:
20. Glo in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees.
21. En hy het met die volk beraadslaag en tot eer van die Here sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing en by die uittrek op die voorpunt van die gewapendes moes sê: Loof die Here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
22. En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die Here 'n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is.
23. Die kinders van Ammon en Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp.
24. En toe Juda op die wagkop by die woestyn kom en hulle na die menigte kyk, lê hulle daar dood op die grond; en niemand het vrygeraak nie.
My boodskap aan die Boerevolk vir 2009 is 'n boodskap van hoop. Daar is verseker 'n uitkoms vir die Boerevolk op hande. Die tyd van vervulling van Sommige van die Siener se profesieë is op hande. Die Vierkleur sal verseker weer wapper maar dan moet elke lid van die Boerevolk bereid wees om sy of haar deel te doen.
* Draai jou rug op alle volksvreemde bedrywe soos 7de laan en die Lotto.
* Wees bereid om hierdie jaar standpunt in te neem deur bv. op Afrikaans aan te dring, die offer en die frustrasie te hanteer as die operateer aan die ander kant van die lyn weier om met jou 'n woord Afrikaans te praat.
* Raak betrokke van elke instansie beweging of vereniniging, wat die Vryheid van die Boerevolk nastreef.
* Kom en word biddend en in die geloof deel van die Boerevolk: "Op Pad na Vryheid",
sodat ons uiteindelik weer 'n blyplek kan bekom waar die Diaspora omgekeer kan word en ons almal saam sal kan uitroep:
"Die Vierkleur wapper weer."
--------