Waar kom die Afrikaner, die "Boerevolk", eintlik vandaan? As jy nog altyd gedink het ons is die nasate van Nederlanders wat hulle aan die Kaap kom vestig het (met so ’n skeut Franse bloed vanweë die koms van die Hugenote) kan jy dalk ontnugter word. P.W.P. van B., die skrywer van die meegaande kort artikel, redeneer ons is van huis uit eintlik Duitsers en nie soseer Nederlanders nie...
Oral in die eietydse media en selfs historiese werke bestaan die dwaling: die Afrikaner word as ’n ver verwyderde loot van die Hollandse stam beskou word. Ons sou meestal van die Nederlanders afstam, word vertel, want ons taal is immers ’n "verworde" Nederlands.
Maar hierdie nosie is nie eens halfpad juis nie, dog slegs ’n derde korrek, indien enigsins soveel.
Laat ek gou sê dat ek hoegenaamd nie die Nederlanders (vir wie ek ’n groot respek en deernis het) met hierdie stelling wil aanvat of te na kom nie. Die bedoeling is bloot om by die werklike wortels van die Afrikaner uit te kom -- in die geskiedkundige sin en nie om enige ander rede nie. (Miskien sal dit selfs vir sekere Nederlanders ’n verligting wees om te verneem dat hulle nie so naby verwant is aan die "Boere" as wat hulle altyd gedink het nie!)
As die Afrikaner hoegenaamd ’n spesifieke bakermat in Europa moet hê, lê dit waarskynlik meer in die teenswoordige Duitsland as in enige ander land. Duitsland as verenigde moondheid het toe weliswaar nog nie bestaan nie, maar Duitse state digby Nederland, soos Nedersakse, was ’n geweldige voedingsbron van soldate en matrose vir die Hollandse VOC.
Dis boonop merkwaardig dat meer Nederlanders na Suid-Afrika verhuis het in die tydperk 1808 tot 1837, toe die Kaap onder blywende Britse bestuur was, as in die tydperk 1787 tot 1807, toe die Kaap nog grotendeels onder Nederlandse bewind was. Maar hul getalle word totaal oorskadu deur die 30 000 tot 40 000 Duitsers wat hulle in die negentiende eeu in Suid-Afrika gevestig het.
’n Navorser soos dr. J.A. Heese het die samestelling van die Afrikaner as volg bereken: Nederlands 34,8%, Duits 33,7%. Frans 13,2%, Brits 5,2%, ensovoorts. Dog die stroom name van Duitse stamvaders loop veel dikker deur ons genealogiese verlede as dié van Nederlanders.
Die eenvoudige rede waarom daar tog nog ’n bietjie minder Duitse bloed in ons samestelling blyk te wees, is dat daar reeds dekades lank gevestigde Hollandse burgers met baie groot gesinne aan die Kaap was voordat die talle Duitsers hierheen gekom het. Ofskoon ons dus byna eweveel "Duits" as "Hollands" van afkoms is, is die Duitse bydrae tot ons gene-poel kwantitatief baie groter.
Ons het, om dit eenvoudiger te stel, straks byna eweveel Nederlandse en Duitse bloed in ons are, maar wat die genetiese verskeidenheid aanbetref, is ons deur en deur Duits. Daar is baie, baie meer verskillende Duitse vanne onder die Afrikaner, hoewel die (Nederlandse) Van der Merwes, Van Wyks, Nels, ens. gemaklik elk meer as 60 000 siele tel. Maar selfs mense met die laasgenoemde vanne het weens die groot Suid-Afrikaanse vermenging ook ’n dik klomp Duitse gene.
Die besef van die Duitse erfenis is stellig van geslag tot geslag oorgedra in die Afrikaner, al het baie mense naderhand nie meer geweet presies waarvandaan hul oor-oupagrootjies gekom het nie.
Sou dit miskien help verklaar waarom soveel Afrikaners -- benewens weens die verwydering tussen Boer en Brit wat deur die Anglo-Boereoorlog veroorsaak is -- in die Tweede Wêreldoorlog so ’n geestelike verwantskap met die Duitsers aangevoel het? En hoekom daar in so baie Afrikaner-huise in die verlede nooit juis ’n besondere band met Nederland bestaan het nie?
Selfs in ons "Heimat", op die Duitse platteland in die einste Nedersakse, bestaan die historiese verwydering tussen Nederlands en Duits blykbaar vandag nog, soos ek dit tydens besoeke in die afgelope jare beleef het. Vanweë ’n "ryk" Nederland en ’n destyds minder vermoënde Noordwes-Duitse bevolking van kleinboere bly die kloof tussen hierdie volkere ’n lewende erfenis in daardie wêrelddeel.
Ander kan wel redeneer dat die bloedverskil tussen "Duits" en "Nederlands" op haarklowery neerkom. Altwee is tog Germaans en tot in die sestiende eeu het Nederland selfs deel uitgemaak van die Duitse Ryk.
Maar die historiese politieke verwydering tussen hierdie twee nasies kan nie weggeredeneer word nie.