View Full Version : Borgtogaansoek van ses uitgestel
Michelle Mans
4 Oct 2006, 16:44
Borgtogaansoek van ses uitgestel
EXCELSIOR. – Die borgtogaansoek van die ses mans wat in verband met die wrede plaasmoord op mnr. Nico Bezuidenhout in hegtenis geneem is, sal in Oktober voortgesit word.
Die aansoek is gister hier in die landdroshof tot 31 Oktober uitgestel. Landdros K. Komul het die ses mans, almal van Winburg, se borgtogaansoek aangehoor.
Mnre. Moses Moshe (26), Tsietsi Masobe (32), Abel Mohlaphodi (20), Esaia Mothupi (21), Andries Mahlamola (29) en Teboho Ramatlapeng (20) staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede.
Dié aanklagte spruit uit die moord op Bezuidenhout.
Bezuidenhout is op 7 Mei koelbloedig in sy plaaswinkeltjie op Damplaas, 20 km buite die dorp, doodgeskiet.
Sy vrou, Willien (57), is in die skietaanval gewond.
Die beskuldigdes is kort ná die aanval in hegtenis geneem.
Michelle Mans
1 Aug 2007, 01:13
Nog getuienis gehoor oor Excelsior-moord
01/08 2007
http://www.news24.com/Die_Volksblad/Nuus/0,,5-83_2156767,00.html
“JY kan my nie in hegtenis neem nie. Ek het selfmoord gepleeg. Ek is dood,” het ’n verdagte glo gesê toe die polisie hom in hegtenis neem in verband met ’n plaasaanval in die Excelsior-distrik, is in die Vrystaatse hooggeregshof getuig.
Dit was kort nadat ’n skoot in ’n huis in die Makeleketla-woonbuurt by Winburg afgegaan het, het kapt. T.J. Mokoena, stasiekommissaris van Winburg, gister voor regter A.P. Beckley getuig.
Bloed het aan die een kant van mnr. Moshe Thamo (26) se kop afgeloop toe hy op 7 Mei 2006 by dié huis in verband met die aanval vroeër dié dag op mnr. Nico en mev. Willien Bezuidenhout van Damplaas, Excelsior, in hegtenis geneem is.
Mnr. Bezuidenhout (59) het in die aanval omgekom.
Mokoena het getuig hy het eers vir mnr. Andries Mahlomola (29) sowat ’n kilometer daarvandaan in hegtenis geneem en toe op inligting wat hý verskaf het, vir Thamo gaan aankeer.
’n Entjie van Thamo se huis het hy mnr. Abel Mohlaphodi in hegtenis geneem nadat Mahlomola hom uitgewys het.
Speurinsp. Gert van der Merwe van Bethlehem, die ondersoekbeampte, het getuig nadat hy met Thamo in die hospitaal op Winburg ’n onderhoud gevoer het, het hy na mnr. Esaia Mothupi (21) gaan soek en ’n boodskap gelos dat die polisie hom soek.
Die aand laat het hy mnr. Tsietsi Masobe (32) in hegtenis geneem. Die volgende middag het hy Mothupi by die polisiekantoor op Winburg in hegtenis geneem nadat hy op die boodskap gereageer het.
Van 8 Mei af het hy na mnr. Teboho Ramatlapeng (20) gesoek nadat van die ander verdagtes aan hom inligting gegee het. Op 24 Mei 2006 het Ramatlapeng hom by die polisiekantoor op Winburg aangemeld en is hy in hegtenis geneem.
Van der Merwe het getuig hy het later vasgestel die vuurwapen wat in Thamo se huis gekry is, is vroeër by mnr. N.M. Blignaut van Senekal gesteel. Mev. Bezuidenhout het ook ’n selfoon en kamera as haar eiendom uitgeken wat twee van die beskuldigdes uitgewys het.
Van der Merwe het getuig hy was verbaas oor die goeie samewerking wat hy van Masobe gekry het. Hy was die eerste een wat ’n verklaring voor ’n landdros afgelê het, want hy het gesê hy wil verduidelik wat op die plaas gebeur het.
Dr. Pieter Coetzee van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein het getuig die skietwonde wat mev. Bezuidenhout in die kop en bors opgedoen het, kon albei haar dood veroorsaak het.
Die ses beskuldigdes, almal van Winburg, ontken skuld op aanklagte van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Die verhoor duur voort.
Michelle Mans
3 Aug 2007, 11:21
Beskuldigde ‘was nie naby’ moordtoneel
Aug 03 2007
http://www.news24.com/Die_Volksblad/Nuus/0,,5-83_2158213,00.html
HY was die hele dag, tot sy inhegtenisneming, by sy huis en nie naby Damplaas, Exselsior, nie, het ’n vermeende plaasaanvaller, mnr. Moshe Thamo (27), in die Vrystaatse hooggeregshof voor regter A.P. Beckley getuig.
Hy was nie op 7 Mei 2006 daar toe mnr. Nico Bezuidenhout (59) doodgeskiet en sy vrou, Willien, ernstig gewond is nie.
Nadat hy dié oggend opgestaan het, het hy in sy huiswinkel gewerk en televisie gekyk terwyl sy vrou, Mieta, wasgoed en skottelgoed gewas het.
Kort voordat die polisie die middag by sy huis opgedaag het, het twee gewapende gemaskerde mans by sy huis opgedaag en geld gevra.
Een het hom met ’n vuurwapen aangehou en gewurg.
Die ander het hom met ’n mes gesteek.
Thamo het getuig een het hom teen die kop geskiet en die vuurwapen onder sy bed ingegooi.
Toe hy opstaan en na buite gaan, het hy talle polisielede gesien wat vuurwapens op hom gerig het. Hy het aan hulle die vuurwapen uitgewys. Hy het ontken dat hy homself geskiet het.
In ’n stadium van kruisondervraging het adv. Jannie Botha, namens die staat, aan hom gestel: “U hoef nie die rympie wat u in die tronk geleer het weer vir ons te herhaal nie.”
In verklarings wat mnre. Teboho Ramatlaping en Tsietsie Masobe onderskeidelik voor landdroste op Ladybrand en Koppies afgelê het, vertel albei hoe ses van hulle na die plaas was en hoe Thamo op die boer en sy vrou geskiet het.
Albei vertel ook hoe die geld wat gesteel is onder hulle verdeel is.
Dié twee, Thamo en mnre. Abel Mohlaphodi, Esaia Mothupi en Andries Mahlomola ontken skuld op aanklagte van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Almal, behalwe Thamo, het sonder om te getuig hul verdediging afgesluit.
Die regsverteenwoordigers van die staat en die beskuldigdes sal vandag hul betoë lewer.
Mev. Bezuidenhout het vroeër getuig sy herken Thamo as die een wat op haar en haar man geskiet het. Sy beeld is in haar geheue gebrand, het sy getuig.
Aangedryf deur vBulletin™ Version 4.1.12 Kopiereg © 2012 vBulletin Solutions, Inc. Alle regte voorbehou.